Sirkel: Kalahari

Konferensie

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 7 Maart 2019

 

Vyf uit die ses Sirkelpresidente wat VLV Sirkel Kalahari oor die afgelope twintig jaar gehad het, was op Donderdag 7 Maart 2019 by dié Sirkel se 86ste Konferensie wat op Kuruman by die NG Moedergemeentesentrum gehou is!

Dit was huidige Sirkelpresident, Corlie van Zyl se heel eerste Konferensie as Sirkelpresident. Die Konferensie is deur die Kuruman-tak aangebied, waarvan Marianne Vorster die Voorsitter is.

 

Huidige Sirkelpresident, Corlie van Zyl saam met die Voorsitter van Kuruman se VLV-tak, Marianne Vorster.

 

VLV Sirkel Kalahari se Sirkelpresidente vanaf 1997 was:

Koenie van Eeden 1997-2003

Martie Eloff 2003-2009
Annelize Marx 2009-2013
Carien van den Berg 2013-2015
Tersia Grobler 2015-2017
Carien van den Berg 2017-2018
Corlie van Zyl 2018 – tans.

 

Slegs Annelize Marx kon nie die Konferensie bywoon nie. Koenie van Eeden, Martie Eloff, Carien van den Berg en Tersia Grobler was almal eregaste tydens die geleentheid. Tersia Grobler het ‘n spreekbeurt gehad om ‘n boodskap van ‘n oud-Sirkel President oor te dra.

 

 

Voormalige Sirkelpresidente van VLV Sirkel Kalahari, vlnr: Carien van den Berg (2013 tot 1015 en 2017 tot 2018), Martie Eloff (2003 tot 2009) en Koenie van Eeden (1997 tot 2003).

 

 

Voormalige Sirkelpresident van VLV Sirkel Kalahari, Tersia Grobler (2015 tot 2017) tydens haar groeteboodskap as oud-Sirkel president. Tersia Grobler moedig lede aan om inspirerende herinnerige met mekaar te deel.

 

Annelize Marx (2009-2013) kon nie die Konferensie bywoon nie.

 

 

Mev Susan Sargeant is tydens VLV Sirkel Kalahari se Konferensie op Donderdag 7 Maart 2019 tot Erelid van VLV Kuruman-tak verklaar.

Mev Susan Sargeant wat op 1 Desember 2018 haar 95ste verjaarsdag gevier het en reeds sedert Januarie 1970 ‘n lid van VLV Kuruman-tak (Sirkel Kalahari) is, is beslis een van die VLV se grootste juwele.

Sy het ook op 7 Maart ‘n spesiale toekenning tydens die Konferensie ontvang vir die handgeborduurde bedsprei wat sy aan VLVK se tekstielmuseum by die Jubeleum Huis in Stellenbosch geskenk het! Lees gerus meer hieroor op: http://vlv.co.za/19652-2/

 

 

Erelid van VLV se Kuruman-tak, Mev Susan Sargeant, saam met die Sirkelpresident van VLV Sirkel Kalahari, Corlie van Zyl, wat die spesiale toekenning aan haar oorhandig het.

 

Die dames van VLV Sirkel Kalahari het behoorlik aan plaaslike sangeres, Edna Brink se lippe gehang toe sy tydens die Konferensie opgetree het.

Sy is in Kuruman gebore, het skool gegaan in Bloemfontein waar sy sanglesse ontvang het by die bekende en bekwame Alida van der Walt. Daar het sy ‘n passie ontwikkel vir klassieke musiek.

Na skool het sy vir vier jaar opera studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Haar sangdosent was Virginia Davids – ‘n groot naam in musiekkringe.

Edna het vir ‘n jaar in die filmbedryf gewerk.

Sy en haar man Stephan bestuur tans die gewilde koffiewinkel, Meercup, in Kuruman, by haar ouers se gastehuis, Cunningham Cottage. Hulle het ‘n seuntjie Benjamen en is tans swanger met die tweede enetjie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Edna Brink, plaaslike sangeres tydens VLV Sirkel Kalahari se Konferensie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ds Neeltjé van Staden het die opening tydens die geleentheid waargeneem. Haar ouma was ‘n VLV-lid en Neeltjé het Rut as voorbeeld van ‘n goeie VLV vrou uit die Bybel gebruik.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ds Christo Jonck gee sy groeteboodskap namens Agri De Kuilen en Ghaap Boere Unie  in sy boer-uitrusting, hoed en al! Hy sê dat boere in droogtetye erken die enigste rede waarom hulle nog aanhou boer is omdat hulle vrouens hulle ondersteun.

 

 

 

 

 

 

 

Magdaleen de Klerk en Madri Nieuwoudt se demonstrasie oor hoe om kunswerke uit groente en vrugte te maak, was ‘n absolute treffer. ‘n Mens het ‘n skerp messie en baie geduld hiervoor nodig. ‘n Mens moet ook versigtig wees om nie jou snye te diep te maak as jy wil hê die deeltjies moet nog vas aan die item wees nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Paar voorbeelde van die blomme wat uit groente gemaak is. Mens kan dit byvoorbeeld gebruik om jou slaai ‘n bietjie mooier te laat vertoon of as garnering op ander disse.

 

Hulle het die demonstrasie ook by ‘n vorige geleentheid tydens ‘n Landbou & Tuinbou-vergadering van VLV Kuruman-tak gedoen en dié vergadering is (saam met Leefstyl se mooimaaksessie) aangewys as die beste vergadering van die jaar vir 2018.

 

Konferensiegangers: Sirkelbestuur 10, afgevaardigdes 8, sprekers 3, beoordelaars 3, gaste 5, dagbesoekers 18, lede van gasvroutak 37 = 84