Sirkel:  Weskus

Tak: Porterville

Portefeulje:  Kunste en Handvlyt

Beriggewer:  Louwna Hoving, [email protected]

Datum:  14 Maart 2019

 

Ronel Bakker het besluit om met pottebakkery te begin om weg te breek van ‘n gejaagde lewe in die korporatiewe wêreld.  Sy het ‘n oond en ‘n paar sakke klei gekoop en die kuns aangepak met net ‘n paar pottebakkery klasse agter die rug.  Aan die begin het sy net mislukkings gehad – slegs gekraakte en gebarste skeppings!

 

 

 

 

 

 

Die aanpassing om van ‘n onafhanklike beroepsvrou oor te skakel na ‘n huisvrou wat haar kinders self wil grootmaak, was nie maklik nie, inteendeel dit het haar emosioneel en finansieel getap totdat sy ernstig met God in gesprek getree het om ‘n oplossing te kry.

Sy het toe besluit om van haar kennis in die korporatiewe jare gebruik te maak en dit op die pottebakkery toe te pas. Sy het met ‘n bemarkingsaanslag begin en was tot bereid om gratis produkte weg te gee om advertensies in tydskrifte geplaas te kry.  Op ‘n dag het sy onthou van ‘n gesogte koffie-restaurant en aan hulle ‘n e-pos met foto’s gestuur om van haar melkbekers en suikerpotte daar te bemark.  Sy het byna onmiddellik ‘n antwoord terug ontvang dat hulle nie in haar produkte belang stel nie.  Sy was moedeloos, want sy het dit nie geken om onsuksesvol te wees nie.  Maar sy het nie die hele e-pos klaar gelees nie, want in die volgende paragraaf het hulle haar gevra vir ‘n kwotasie vir borde, kleinbordjies, bakkies en koekstaanders vir ‘n nuwe winkel.  Sy is nou reeds 10 jaar in die nuwe bedryf en geniet dit.

 

 

 

 

 

 

 

Keramiek, die kuns om voorwerpe uit klei te maak en dit deur middel van hitte te verhard, is ‘n geestelike ondervinding.  Roem bring geen geluk nie.  Klei is die mees nederigste medium om mee te  werk omdat dit jou herinner aan God wat die Pottebakker is en ons die klei.  Hy vorm ons om perfek te wees, maar ons toon ook maar krake net soos die potte wat ons vorm.  Klei maak ook letsels as dit nie versigtig hanteer word nie.

Porselein en erdewerk is die algemeenste tegnieke.  Na tien jaar het sy twee reekse ontwikkel:  funksionele eetware en galerywerk.  Alles word handgemaak.  Ander pottebakkermetodes is wielwerk en gietwerk waarin jy vloeibare klei in ‘n vorm giet en sodoende honderde presies dieselfde items maak.

 

 

Behalwe vir die eintlike kleiwerk is glasuur ‘n wetenskap op sy eie.  Dis basies vloeibare glas waarin die halfgebakte klei-item gedoop word en dan teen ‘n hoë temperatuur gebak word om ‘n glaslaag om die klei te vorm.  Glasuur is ‘n mengsel van chemiese stowwe wat baie gevaarlik en giftig kan wees en ‘n masker moet gedra word om daarmee te werk.

Sy doen alles met die hand en vervaardig niks in massas nie, maksimum 16 groot borde en 20 bakkies, omdat die werk altyd ‘n kuns bly.  Haar galerywerk is die items waarop sy skilder met 90% oksiedes, byvoorbeeld koper- of yster-oksied. Sy skilder vrouegesigte, maar nooit dieselfde gesig nie.

Sy leef Spreuke 31 uit en onthou altyd dat ‘n mens letsels maak deur jou optrede wat net soos klei krake laat.

 

Tydens die afgelope Sirkelkonferensie het die Tak uitstekend presteer. Van die 18 inskrywings het ons twee derdeplekke, drie tweedeplekke en 2 eersteplekke verower.  Die Tak het ook 4 trofeë verower.  Die hoogtepunt was die 10 uit 10 Tak-trofee in die Sirkel, toegeken vir positiewe energie, hou by sperdatums, ledewerwing, gemeenskapsbetrokkenheid, goeie konferensie-prestasies in 2018 en die enigste Tak in die Sirkel wat 2 plekke onder die eerste ses plekke in Kaapland behaal het in 2018, asook die kongrestrofee twee jaar agtereenvolgens vir Takprestasies.

 

Voor: Lydia Liebenberg, 2de in Masjienwerk, Zabetha Albertyn, trofee vir 1ste vir Batik, René Hanekom, 2de in Gebak, Mary-Ann van Schalkwyk, 1ste in Fotografie en met 10 uit 10 Tak-trofee, Anneke Smuts, Taktrofee vir Meeste Punte in Kunste en Hand-vlyt en 2de vir Batik, Agter: Willemien Burger, 3de in Woordkuns, Joey Koen, 3de in Batik.

 

Daar het ook 3 nuwe lede by die Tak aangesluit.

 

Mary-Ann van Schalkwyk, Voorsitter, Bubbles Cheetham, Hannelie Smit en Philippa Teggin.