Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Studierigting: Openbare Sake

Saamroeper: Linda Juta

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 13 Maart 2019

 

Imelda Marcos, die Filippynse staalvlinder en gewese presidentsvrou, het 3000 pare skoene gehad. Acqua se dames mag nou wel nie ‘n Imelda trek nie, maar skoeisel is van groot belang. Nie net om die pad te loop nie, my Lam, maar om ‘n voetspoor te los. As vroue het ons mos maar ‘n oog vir ‘n mooi skoen. Onmoontlik hoog of gemaklik laag, leer of lap, blink of sonder tooisel. Om ‘n skoen te koop is ‘n hoogs persoonlike en baie belangrike besluit.

 

Acqua het die stoute skoene aangetrek om ‘n skoenontwerper te kry om daai mooie paar skoene op die winkelrak se reis van ontwerp tot klerekas te verduidelik. Kenneth Smith, vervaardiger van sy eie skoenreeks, en ‘n man met 40 jaar ondervinding in die skoenbedryf, het sy voet spreekwoordelik in Acqua se deur gesteek.

 

Kenneth het die gewigtige titel van “footwear designer, range builder and developer” by ‘n plaaslike skoenvervaardiger, by wie hy op konsultasiebasis betrokke is.

 

Die skoenlees is die beginpunt van elke skoenontwerp. Die lees word van gemoduleerde plastiek, gekerfde hout of selfs aluminium gemaak. Die grootte van die skoen, silhoeët en vorm van die skoen, word deur die lees bepaal. Die vorm van die lees bepaal ook hoe die skoen sal pas en wat die gebruik van die skoen is.

 

Selfs die mees eenvoudigste ontwerp kan tot ‘n 100 stappe in die vervaardigingsproses noodsaak. Hoe meer kompleks die ontwerp, hoe meer stappe is nodig. Dan is 400 of selfs meer stappe glad nie ongewoon nie.

 

 

Daar is honderde skoenhandelskoue ter wêreld. Die nuutste modeneigings, kleure, ontwerpe, materiale, asook verwante produkte soos skoenpolitoer, word by so ‘n handelskou vertoon en uitgestal. Kenneth was al die wêreld oor om die handelskoue by te woon.  Daar word geen foto’s van die uitstallings of ontwerpe toegelaat nie, maar China is ander lande vêr voor. Hy vertel dat China se skoenontwikkelaars (ontwerpers) sommer net buite die lokaal op hulle rekenaars sit om die ontwerpe te reproduseer. China is dan gewoonlik ook die eerste land om die nuutste skoenneigings te vervaardig.

 

China vervaardig 12.6 biloen pare skoene per jaar. Die naaste land, ten opsigte van skoenvervaardiging, is Indië met 2.1 biljoen pare per jaar. Nike is die wêreld se beste skoenhandelsmerk met Adidas in die 2de plek en Converse in die 6de plek.

 

Skoene word ontwerp vir die jonger generasies, want hulle is die grootste koopkrag. Die lewenstyl, gewoontes, voor- en afkeure van Generasies Y en Z, maar veral Generasie Z, wat na 1995 gebore is, het ‘n beduidende invloed op skoenontwerpe.

 

Skoeisel is lank nie meer net dienlik en prakties nie. Jou skoene is ‘n modeverklaring. ‘n Uitdrukking van jou persoonlikheid. ‘n Hupstoot vir jou gemoed. ‘n Interessante paar skoene kan selfs die mees prosaïese uitrusting tot die volgende vlak verhef.

 

Warm skoennuus vir 2019 is:

  • Hakke met ‘n argitektoniese vorm is hoog in die mode. Stilettos is vreeslik laasjaar.
  • Hakke moet ook deursigtig wees. Skoene van deursigtige gekleurde PVC in ‘n verskeidenheid van kleure is ‘n moet.
  • Dierpatrone, soos luiperd en cheetah, is groot nuus op die Europese loopplanke. Asook helder, ryklik bedrukte materiale.
  • Tevaskoene is in. Nou wat op aarde is ‘n Teva? Teva is die Hebreeuse woord vir “natuur”. Die Tevasandaal is in 1984 in die Grand Canyon “gebore”. Dit is ‘n baie, baie gemaklike “flip flop” met velcrobande.
  • Die kleur skoen om in jou kas te hê, is “living coral”. Verkieslik in blinkleer.
  • Ongewone kleure soos seeskuimgroen, kobaltblou en enige neonkleur sal sorg dat jou skoene die fokuspunt van jou uitrusting is.
  • Vere, gevlegde leer, maas, gespes en tou sal vir detail gebruik word.
  • Stewels wat met sokkies gedra word is uit. Kamoefleerstewels, veral met ‘n hoë interessante hak en Strassdetail is in. Prada en Valentino sal verseker dat jy “koel” is.
  • Die metaalvoorkoms is uit. Tekkies en hoë hakke met logo’s is ‘n moet in jou kas.

 

Acqualede weet gelukkig hoe om hul beste voetjie voor te sit. Soveel so, dat Kenneth aangebied het om ‘n skoenontwerp-werkswinkel vir Acqua se dames te doen. Hoe gelukkig kan ‘n vrou dan wees om aan die voete van so ‘n kundige man te wees.

 

 

Middelplasings gepas vir die aand se onderwerp, is gemaak deur VLV-vriend, Marius de Vries.