Sirkel: Namakwaland

Konferensie

Beriggewer: Erika Kotzé

Datum: 13 Maart 2019

 

Sirkel Namakwaland het hul 82ste Konferensie gehou te Loeriesfontein op 12 en 13 Maart 2019.

Die konferensie is met die gebruiklike formele orde en skriflesing geopen.  Mev. Riana van der Westhuizen laat ons met ‘n positiewe boodskap van vrede te midde van goeie én slegte tye.

VLVK se 90ste bestaansjaar is gevier, en daarmee saam, ook die verjaardae van, die 82-jarige tweeling van Loeriesfontein; Annette O’Kennedy en Marie Muscet, asook Elizabeth Cloete, bekende VLV- en Koekedoor-beoordelaar, wat haar 80ste verjaardag gevier het.

 

Tweeling links Annette O’Kennedy en heel regs Marie Muscet saam met Heidi van Niekerk in die middel

 

Mnr. Victor Haupt is as die Dankie Persoon aangewys.  Hy is ‘n jarelange inwoner van Loeriesfontein, en het as mense-mens, rolmodel, vaderfiguur en uitmuntende sakeman, in almal se harte gekruip.  Hy het met passie en ywer, sy kliënte en vriende op die hande gedra.  Dit is ook vir hom belangrik om die Woord van die Here uit te leef en te verkondig.

 

Alida Vlok en Victor Haupt

 

 

 

 

 

 

 

Bennie Bekker van Marina Sout het die ongelooflike storie van sout vertel.  Sout bestaan uit twee giftige elemente naamlik Natrium en Chloried maar saam maak dit sout waarsonder mens nie kan klaarkom nie Dit is die eenvoudige dinge wat tel in die lewe. Bennie beklemtoon dat ons  maklik  die uitdrukking gebruik: “onder omstandighede gaan dit goed”, maar ons kan bo ons omstandighede uitstyg.

 

 

 

Bennie Bekker

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die presidentsrede en -verslag, deur Heidi van Niekerk, dui op die suksesvolle werksaamhede van die VLV die afgelope jaar. Sy tree uit na vier jaar met die gebed dat God saam met jou ‘n pad mag stap.

 

Joretha de Waal, Karien van Schalkwyk en Heidi van Niekerk

 

Die bekroonde ATKV Rieldans wenners, die Boesmanland Bitterbessies,  het hul vlytige voete gedemonstreer. Die veelsydige en talentvolle musikant,  Marlon van Rooy, van Loeriesfontein,  het pragtig gesing.

 

Die spreker oor Opvoeding & Kultuur, Susan Carstens, het die Sirkel van Dapperheid bespreek om positiewe ontwikkeling onder die jeug te bewerkstellig. Lambert Brand, ‘n boer uit die distrik, het breedvoerig en interessant vertel hoe hy skaaphonde oplei,  in Landbou & Tuinbou. Ina Wiese, vir Gesondheid, het die versorging van jou niere behandel. Mandie Kotze het demonstrasies gelewer oor moderne kuns en lugdroogklei vir Kunste & Handvlyt. Lehana Nel, wat die Leefstyl portefeulje behartig,  het met die onderwerp, Handdoekpolitiek, gewys hoe handdoeke interessant gevou kan word vir jou gaste.  Vir Openbare Sake het Ohna Muller, met die onderwerp  “Plastiek ons vyand!”, beklemtoon watter groot impak plastiek op ons planeet en veral die oseaan het.

 

Lutzville was die algehele kompetisie wenner! Joretha de Waal is aangewys as die nuwe Sirkelpresident. Die volgende konferensie gaan in Maart 2020 deur Lutzville aangebied word.

 

Joretha de Waal, Elizabeth Cloete en Ida van Reenen

 

Die algehele indruk van die konferensie is ongelooflik positief, die sprekers was van hoogstaande gehalte en almal baie gemotiveerd oor die VLV.  Ons sê baie dankie aan Loeriesfontein wat die gasvroutak was van die Konferensie vir hul uitstekende aanbieding.  Dankie aan Heidi van Niekerk vir 4jaar se uitstekende leiding vir Sirkel Namakwaland, en baie geluk ook aan Joretha de Waal met jou verkiesing, sterkte vir jou termyn.