Sirkel: Middelland

Tak: Kraggakamma

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Margaret van der Mescht

Datum: 12 Maart 2019

 

 

Dewald van Eyk vertel ons van Akwaponika. Dit is `n stelsel wat jy by jou huis kan oprig om vir jouself en jou familie gesonde vars kos te produseer.

 

Akwaponika is `n kombinasie van akwakultuur, dit is die groei van visse in tenks, met hidroponika, die kweek van plante in water. In `n akwaponiese stelsel dien visse se afval as voedingsbron vir die saailinge. In die watertenk waar die visse is, versamel giftige ammoniak in die visse se afval. Hierdie water word deur `n hidroponiese stelsel gesirkuleer sodat dié afval deur bakterieë afgebreek kan word na stikstof. Die stikstofryke water bevat die noodsaaklike voedingstowwe wat direk deur die plant se wortels opgeneem word, waarna die gesuiwerde water weer gehersirkuleer word na die watertenk.

 

`n Voordeel van akwaponika is dat voedingstowwe beheer kan word en vinniger aan die plant beskikbaar is. Die voedingstowwe is reeds afgebreek tot hul basiese vorm en daarom groei plante baie vinniger as dié in jou tuin en word `n beter plant en hoër opbrengs gelewer. Verdere voordele sluit in min arbeid, geen onkruid of bewerking van grond, geen besproeiing of die mors van water nie.

 

Dewald gebruik Tilapia visse in sy akwaponiese tuinstelsel. Die visse kan verkoop word as hulle te veel raak vir die tenks. Hy kweek tamaties, komkommers en blaarslaai en verskaf dit aan huishoudings in sy omgewing.