Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 6 Maart 2019

 

Aberdeen besoek Karoo Catch:

Vis in die Karoo?  Klink vreemd, maar Aberdeen VLV het vir hul Maart vergadering van naderby gaan ondersoek instel.  Elna van Niekerk, Sameroeper Landbou & Tuinbou, reël ‘n besoek aan Karoo Catch net buite Graaff-Reinet met Bemarkingsbestuurder Trudi Bezuidenhout. Caroline Le Wack doen ‘n aanbieding om meer te vertel van die unieke projek waar visse geteel en visprodukte vervaardig word.  Aangesien natuurlike vishulpbronne afneem terwyl die populasie toeneem, is dit belangrik om alternatiewe voedselbronne te ontwikkel vir voedselsekerheid.  Bemagtiging is ‘n hoeksteen van die projek en lede van die plaaslike gemeenskap wat voorheen werkloos was, word opgelei om in die besigheid te werk.

 

Francis Martins neem lede op ‘n tonneltoer en verduidelik alles.  Karoo Catch gebruik beskikbare ondergrondse waterbronne in die tonnels – die water word gesuiwer en verryk met suurstof en natuurlike nutriënte en die kwaliteit deurentyd gemonitor.  Water word ook hergebruik om vermorsing te voorkom.  Die vis word deur kunsmatige inseminasie geteel en gevoer totdat hulle groot genoeg is om verwerk te word.  Die spesiale viskos is deur Karoo Catch ontwikkel en gebruik net die beste bestanddele.  Die viskos word plaaslik deur Montego vervaardig.

 

Die vis word verwerk in Karoo Catch se fabriek op Graaff-Reinet en die produkte is net so uniek soos die konsep van vis in die Karoo, naamlik wors en burgers!  Mens sou verwag dat dit soos vis proe, wat glad nie die geval is nie – die geure is “pork & lemon” en “beef” en dis ‘n smaaklike voedsame proteïenbron wat maklik gaarmaak.

 

Die leersame oggend word afgesluit met ‘n besoek aan Polka Café waar lede heerlik gesels en saamkuier.

 

 

Besoek aan die vistonnels:

Vlnr     Francis Martins (Karoo Catch), Luise de Jager, Elise Steynberg, Elna van Niekerk (Sameroeper Landbou & Tuinbou), Annalie Lategan, Suzanne Lategan, Christelle Nel, Lea van der Vyver, Lize de Jager, Karen van Rensburg, Adele de Jager

Voor   Heidi Lombard