Sirkel: Worsester

Tak: Maria Stofberg

Studierigting: Gesondheid

Beriggewer: Alta Britz

Datum: 7 Maart 2019

 

 Gevaar van Dwelm- en Drankmisbruik – Anthony Hall [RAEL]

Die gasspreker, Anthony Hall van RAEL [Recovering Addicts Empowering Lives], het almal stil gehad in fassinering en bewondering vir wat hy bereik het.  Hy is nou ‘n internasionale spreker wat al op ons plaaslike televisie kanale, sowel as op Chinese  TV en CNN en BBC was.  Hy doen heelwat praatjies vir groepe en skole.

 

Hy het ons vertel hoe hy eers in die SAP in die Dwelm afdeling en Moord en Inbraak afdeling was, maar so verslaaf geraak het aan drank en dwelms dat hy op straat beland het en haweloos was vir twee jaar.  Sy ma en broer het hom later opgespoor en hy het daarna skielik ‘n openbaring gehad en onmiddellik opgehou drink en dwelms gebruik.

 

Hy het daarna besluit om ander dwelm en drank verslaafdes te help.  Hy het nou ‘n klein plasie net buitekant Worcester waar hy en sy vrou tot 25 dwelm- en drankverslaafdes op ‘n slag hanteer.  Dis gebasseer op Christelike beginsels en die inwoners moet ‘n minimum van 6 maande daar bly.  Baie van hulle bly langer, omdat hulle weer maklik ingetrek kan word in die bose kringloop van dwelm- en drankmisbruik as hulle sou terugkeer na waar hulle vandaan gekom het.  Van hulle het selfs werk in Worcester en keer elke dag ná werk terug na RAEL.  Hulle het vrywilligers soos sielkundiges en predikante wat ook dienste lewer.  Die inwoners moet werk en daar word gekyk na hulle vaardighede, of nuwe vaardighede word gekweek.  Hulle doen ook werk  in die gemeenskap, soos byvoorbeeld om die begrafplaas op te ruim.

 

Volgens Antony is ons jeug in groot gevaar aangesien drank en dwems openlik by skole beskikbaar is.  Kinders eksperimenteer graag en besef nie hoe gevaarlik dit is nie.  Die wettiging van dagga is ook ‘n gevaar, aangesien dit dikwels lei tot sterker dwelms.

 

Anthony het die praatjie afgesluit deur ‘n beroep op die gehoor te doen om hulle kinders en kleinkinders bewus te maak van die gevaar van dwelms en drank.

 

ACVV bewusmaking – Valeska Spies

 Valeska het in ‘n kort bewusmakings praatjie die lede van die vergadering attent gemaak op die werk van die ACVV.  Hulle werk meestal met kinders wat mishandel word of wat ander probleme het. Daar is ‘n groot tekort aan mense wat kan help en vrywilligers word gesoek wat ‘n bietjie van hulle tyd sal opoffer, bv om saam met ‘n kind te lees of vir hulle iets te leer, of andersins om te help met fondsinsameling.

 

Jaarkentekens is aan lede toegeken. Elsie Vorster het 45 jaar gelede by Richmond VLV tak aangesluit.

Lede het  fluks aan die kompetisies deelgeneem.  Anna Marie du Toit was die wenner van die wortelkoek, Sandra Uytenbogaard van die “Versier ‘n notaboek”  en Alta Britz van “versier n gaste handdoek”

 

 

  1. Anthony Hall, Tina van Deventer, sameroeper van Gesondheid en Ahile Mbali

 

Marie Steinberg (15jr), Sarie Hanekom(5jr), Elsie Vorster (45jr) en Gerda van der Vyver, Voorsitter

 

Wortelkoeke

 

Gaste handdoeke

 

Notaboeke