Sirkel: Cradock

Tak: Hofmeyr

Portefeulje:  Kunste & Handvlyt

Beriggewer:  Teresa Opperman

Datum:  2019-02-25

 

Kunstenaars besoek Hofmeyr VLV

 

Anneke Wilken,  Sameroepster van Kunste en Handvlyt by Hofmeyr VLV het die  twee kunstenaars genooi om die afgelope VLV vergadering te besoek.

 

Irene Mynhardt,  ‘n vriendin van Anneke wat ook saam met haar studeer het by Kovsies,  het haar pragtige tafeldoeke en kussingslope uitgestal.  Sy het as kind geweet dat sy anders na die wêreld kyk, en het gereeld saam met haar Pa op die plaas rondgery, en heeltyd prentjies geteken van al die mooi goed wat sy sien.   Sy het verder studeer maar die kuns ondertoon het haar gereeld herinner dat sy eerder ‘n kunstenaar wou wees.  Sy het ‘n driedag-kursus van ‘n bekende kunstenaar bygewoon en begin skilder in olie.  Haar werke hang in ‘n kunsgalery in Bloemfontein en verkoop goed.  Sy laat druk ook tekstielstowwe met haar skilderye en daarmee maak sy tafeldoeke en slope wat baie goed verkoop.  Haar uitstalling by die VLV het ook groot aftrek geniet.

 

 Irene Mynhardt met haar kunswerke.

 

Annari  Oosthuizen het  ook die vergadering bygewoon.     Sy is ‘n professionele kunstenaar en kunsonderwyseres met  twaalf jaar ondervinding.  Sy het vroeër in Burgersdorp gewoon en gewerk en het ook twee jaar oorsee klasse aangebied.  Sy het haar Honneursgraad in Skone Kunste by Kovsies voltooi, en is tans in Cradock waar sy saam met Victoria Manor en die Tuishuise se Lisa Antrobus-Kerr ook verskeie kunsmodules, ook bekend as Karoo Art retreats en “Paint the Town”,  aanbied. Hierdie geleenthede is nou ‘n internasionale sosiale neiging en gaan gewoonlik gepaard met ‘n kaas-en wyn paring  of canapé’s.    Annari se kunssentrum bied gereeld werkswinkels aan en oorweeg haar gerus om jou partytjie, babatee, kombuistee of damestee op te kikker en elke gas gaan dan sy eie meesterstuk  kan huis toe neem.  Sy verskaf alle toebehore om hierdie kunswerke ‘n realiteit te maak.  Besoek ook gerus haar facebook blad, Annari’s Art.

 

Hofmeyr VLV nooi die kinders ook:

Elke maand met VLV-dae is dit interessant om te sien hoeveel kleingoed vergesel hul Mamma’s na die VLV vergaderings.

 

Sommige bring die hond saam, en andere bring net die fopspeen saam  en dan is daar die Mammas en Ouma’s wat sommer die plaastrekkers en implemente saambring.  Maar niemand mis die VLV nie.

 

 

Gelukkig hou Hofmeyr hul VLV-vergaderings by die plaaslike sportklublokaal, waar daar meer as genoeg speelplek is vir al die spruite om gesellig saam te kuier.