Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 23 Februarie 2019

 

Fyne dame se fyne stekies na museum

 

Mev Susan Sargeant wat op 1 Desember 2018 haar 95ste verjaarsdag gevier het en reeds sedert Januarie 1970 ‘n lid van VLV Kuruman-tak (Sirkel Kalahari) is, is beslis een van VLV Kuruman Tak se grootste juwele.

 

Met die eerste oogopslag sal jy haar reeds as “fyn” beskryf – ‘n hele 43kg!

As jy egter meer met haar te doen kry, kom jy agter dat sy ook “fyn opgevoed” is – soos dit ‘n ware dame betaam, onthaal sy steeds gaste met fyn koppies, kompleet met koekies en haar eie spesiale koffie in ‘n skinkbord.

 

VLV Kuruman het jaarliks die poedingstalletjie by Mimosahof Tehuis vir Bejaardes se Gemeenskapsbasaar op Kuruman. Mev Sargeant maak elke jaar ‘n bak groen jellie, sny dit self in blokkies en skep dit self! Toe die basaar weer vanjaar op Saterdag 23 Februarie 2019 gehou is, was sy weer op haar pos. Die VLV-lede het regtig hulle kant gebring met hierdie projek. 510 bakkies poeding is tydens die geleentheid te koop aangebied! Die dag was ‘n sukses en die fondse wat ingesamel is sal help om die inwoners van Mimosahof Tehuis vir Bejaardes te versorg.

 

 Mev Susan Sargeant met haar bak groen jellie.

 

Haar aktiewe deelname eindig nie daar nie. By VLV Kuruman-tak se gholfdag in 2017, het sy ‘n stel gholfstokke geskenk wat tydens die geleentheid opgeveil is.

 

Mev Susan Sargeant (links) wat op hierdie stadium reeds 47 jaar (sedert 1970) aan VLV Kuruman-tak behoort het, het haar gholfstokke geskenk en dit is vir R2 100 opgeveil deur Gideon Cordier (middel) van Kuruman Buiteklub. Marianne Vorster (regs), Voorsitter van VLV Kuruman-tak het gedeel in die opwinding.

 

Sy woon ook nog jaarliks Sirkel Kalahari se Konferensie by en sy sal op Donderdag 7 Maart 2019 weer daar wees!

 

Mev Susan Sargeant saam met voormalige Sirkel President, Tersia Grobler by 2017 se Konferensie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Mev Susan Sargeant tydens 2018 se Konferensie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Haar fyne stekies is egter dit wat behoue gaan bly vir die nageslagte.

Die handgeborduurde bedsprei wat sy aan VLVK se tekstielmuseum by die Jubileumhuis in Stellenbosch geskenk het vir uitstalling daar, is ryk en deurweef van sentiment, liefde, hulp en aanmoediging van haar ouers, familie, vriende en kennisse wat per brief geparste blommetjies van heinde en verre gestuur het. Sy onthou ook die groot pret wat verskaf is deur die waagmoed van haar vriende om blomme te bekom en aan haar te gee, sodat sy die kleure en lyne kon navolg.

In 1951, na die Tweede Wêreld Oorlog, het die Nasionale Oorloggedenkstigtingsfonds vir Gesondheid ‘n bedsprei kompetisie aangebied, waaraan dames uit die Unie van Suid-Afrika, Suid-Wes, Noord- en Suid-Rhodesië genooi is om deel te neem. Die doel was om die rykdom van ons flora aan die wêreld bekend te stel.

 

Mev Susan Sargeant met die bedsprei agter haar  en ‘n paar ander van haar skeppings in die voorgrond.

 

Die vereistes was ‘n bedsprei van 24 panele, elk 18 duim x 18 duim groot, geborduur met inheemse blomme van Suid-Afrika. Die inskrywingsfooi was £1 per bedsprei. Die prysgeld wat aangebied is, was £150 vir die eerste prys, £50 vir die tweede prys en £25 vir die derde prys. Elke bedsprei was waardeer en verseker teen £150. Bedspreie kon te koop aangebied word, maar die deelnemer sou dan slegs die helfte van die verkoopsom vir haarself kry.

 

Na die oorlog was goeie borduur materiaal en gare skaars, geld ook. In Kuruman was daar nog geen bloemistewinkels nie, dus was proteas en sulke blomme in hierdie verafgeleë plek onbekend.

 

“Ek het nog nooit ‘n les in borduurwerk kon neem nie, tog skryf ek in vir ‘n bedsprei kompetisie,” sê sy. Daar was een firma waarvandaan mens per pos afstryk patrone kon bestel – ook net ‘n beperkte verskeidenheid. “Al leidrade van kleur, blomme, ensovoorts, het ek gekry van sigaretkaartjies wat ‘n firma ‘n tyd vantevore vrygestel het. Verder moes ek staatmaak op ‘n boekie met verskillende borduursteke in en afkyk vir tegnieke by ander borduursters.

 

Koningin Mary van Engeland het te hore gekom van die kompetisie en haar belangstelling is gewek. Sy self het borduurlesse gegee aan die koninklike dames in haar hof. Suid-Afrikaanse blommeprag was haar baie na aan die hart.

 

 

 

 

 

 

 

 

Nog van Mev Sargeant se handewerk.

 

 

Daar is besluit, dat nadat die uitstalling en beoordeling van die inskrywings in Johannesburg voltooi is en die bedspreie in die groot stede van ons land ‘n rondte gedoen het, die pryswennende artikels na Koningin Mary sou gaan en daarna sou dit in die Suid-Afrika Huis in London uitgestal word en later ook in Amerika. “Ongelukkig vir ons, is Koningin Mary oorlede voordat die beoordeling kon plaasvind. Daar was toe ook te min fondse beskikbaar om dit na London en Amerika te stuur, maar dit is steeds hier in die groot stede vertoon,” onthou sy.

 

Die pryse is oorhandig deur Sir Walter Harrigan, maar daar is geen eerste prys toegeken nie, maar drie bedspreie het tweede plekke behaal, waarvan tannie Susan s’n een was. “In hierdie bedsprei is elke stekie deur myself gedoen, waar die ander helpers gehad het,” vertel sy.

 

“Ek het ‘n fortuin van £50 ontvang en my bedsprei behou,” sê sy trots. Sy het ook ‘n sertifikaat ontvang.

 

Mev Susan Sargeant spog met haar sertifikaat en die fyn stekies van haar bedsprei in die agtergrond. Die bedsprei is tans te sien by VLVK se tekstielmuseum by die Jubileumhuis in Stellenbosch.