Sirkel: Namakwaland
Tak: Vredendal
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: A Beelders
Datum: 21 Februarie 2019
VLV leer oor naaldwerk.
Lede en besoekers wat VLV-vergaderings bywoon, weet dat dit altyd
‘n interessante, leersame en bowenal gesellige geleentheid is. Dit was
nie anders met Vredendal se eerste volwaardige vergadering van 2019 nie.
Anna-Marie de Vries het die regte atmosfeer geskep met die voorlees
van daardie inspirerende Skrifgedeelte vir vroue, Spreuke 31.
Sanet Ras, ‘n vrou wat van enige stukkie lap ‘n meesterstuk van ‘n rok
kan optower, het die dames ingelig oor die korrekte gereedskap vir
naaldwerk, hoe om ‘n patroon te maak pas vir jou figuur en hoe om
dit uit te lê op die materiaal. Sy het ook nuttige wenke gegee oor
die gebruik van verskillende soorte en teksture materiale en oor kleremaak
in die algemeen. Selfs die mees ervare kleremakers kon iets by haar leer.
Lede is ook gevra om voorbeelde van ou naaldwerk en ander handwerk
saam te bring. Die items is almal uitgestal en daar was voorbeelde van baie ou poppe, klere, soos byvoorbeeld ‘n volksspelerok van Pat de Waal se ma, mevrou Magrietha van Eden, wat sy aangehad het met die inwyding
van die Voortrekkermonument(1948) asook mooi borduur-, brei- en
hekelwerk.
Leave A Comment