Sirkel: Namakwaland

Tak: Nieuwoudtville

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Erika Kotzé

Datum: 21 Februarie 2019

 

Opvoeding & Kultuur fokus op WOW spelkompetisie en Jukskei

 

Nieuwoudtville VLV se Opvoeding & Kultuur portefeulje het op 21 Februarie 2019 by die kerksaal ‘n byeenkoms gehou oor WOW spelkompetisie en die noodsaaklikheid daarvan by opvoeding en Jukskei as ’n eg Suid Afrikaanse kultuursport.

 

Betsie Vollgraaff en haar bekwame span (Carla, Lizette, Marlena en Francis) het die leersame vergadering aangebied.

 

Marlena Maass het meer vertel van WOW wat staan vir Woorde Open Wêrelde. Daar het vier van Nieuwoudtville se hoërskool leerlinge saamgekom en vir die vergadering ‘n mini spelvasvra gedemonstreer. Een leerling het die vrae gevra en ‘n ander leerling was die beoordelaar. Hierdie leerlinge is behalwe vir hul akademiese prestasies ook deel van vele ander aktiwiteite, soos damesrugby, openbare praatjies, rieldans, betrokke by die kerk asook help met leeshulp by die laerskool.

 

Woorde soos: bahuvrihi; ‘n fobie-woord wat beteken vrees het vir teenspoed; nog ‘n vreemde woord wat verwys na iemand wat skraps geklee is; en Franschhoek wat gespel word met twee “h’s”. Die kinders het die vergadering verras met hul uitstekende spelvaardighede.

 

Bahuvrihi beteken baie rys dit verwys na iemand wat baie ryk is.

 

Triskaidekafobie is ‘n vrees vir teenspoed.

 

Déshabilé was nog ‘n vreemde woord wat hul korrek kon spel en verwys na iemand wat skraps geklee is.

 

Die deelnemers was Gerdeline Witbooi, Jonene Witbooi, Sharil Witbooi en Ann Walters. Die aankondiger was Jimela Basson en die beoordelaar Courtney Beukes.

 

 Marlena Maass WOW

Oom Japie Steenkamp van Vanrhynsdorp het meer vertel van Jukskei. Dit is ‘n eg Suid Afrikaanse sport wat ontstaan het en verwys na die juk en skeie in die ossewa-tyd. Hy het heelwat van die geskiedenis, nostalgiese stories asook die reëls verduidelik. Die jukskeibaan word volgens sekere standaarde uitgelê, en verder word ‘n skei (wat gegooi word), ‘n pen (wat in die grond gesteek word) asook ‘n passer (waarmee afstand tussen skei en pen gemeet word) benodig om die sport te beoefen.

 

Die vergadering het daarna die geleentheid gehad om Jukskei te ervaar deurdat  elkeen ‘n beurt gekry het om ‘n skei na die pen te gooi. Dit is ‘n fantastiese kulturele sport wat besig is om uit te sterf.

 

Japie Steenkamp – Jukskei

Daar was ook takkompetisies en heerlike vars vrugte.