Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Ada Gericke

Datum: 19 Februarie  2019

 

Die dames van VLV Voëlvlei het verlede week  baie insiggewende inligting gekry oor hoe hulle hulleself en hulle families kan bewapen om gereed te wees wanneer hulle deur misdaad geteister word.

 

Kaptein Wollie Fourie van die SAPD het gesê dat Mosselbaai se inwonertal die laaste 10 jaar verdubbel het, terwyl die polisielede verminder is. Dit is dus belangrik dat almal paraat sal wees. Hy het onder andere wenke gegee oor hoe om in die huis, tydens huisroof, tydens gesinsgeweld, by die werk, in openbare areas soos in winkelsentrums en op pad wanneer die motor probleme het, op te tree.

 

Die belangrikste aspek is om voorbereid te wees.  Dis belangrik om alle noodnommers te ken en te sorg dat jou selfoon altyd gelaai is.  Neem foto’s van huis- en tuinwerkers, hulle ID-kaarte of boekies, hulle adresse en selfoonnommers.  Neem  ook foto’s van juweliersware, erfstukke en ander waardevolle items.  Bêre afskrifte van alle dokumentasie van jou voertuie op jou rekenaar en maak seker dat jou selfoon en ander digitale toerusting se IMEI-nommers aan jou bekend is.

 

Hy het ook pamflette uitgedeel oor hoe jy moet optree in verskillende situasies.   Dit is belangrik om te weet dat jy in die eerste plek self verantwoordelikheid moet neem vir jou eie veiligheid vir sover dit in jou vermoë is.  Hou altyd jou selfoon by jou, moenie sleutels in deure los nie, moenie die huis se ligte aanskakel wanneer jy verdagte geluide hoor nie, maar gebruik liewer ‘n flits, ken jou bure, sluit aan by die buurtwag.

 

Ten slotte het hy beklemtoon dat God se belofte dat Hy jou sal beskerm, steeds staan en dat die waarde van gebed  steeds belangrik bly.

 

Insette is gelewer deur Johlene Muller oor die sekretarisvoël wat 2019 se voël van die jaar is, Tersia Prinsloo oor kinderregte en Ada Gericke oor die voedingswaarde van droëboontjies.

 

Daar is ook baie entoesiasties deelgeneem aan die kompetisies.  Die kreatiwiteit van die dames is weereens bewys deur die artikels wat hulle met klippies gemaak het en met die blommerangskikkings in bottels wat op staanders moes wees.

 

Inskrywings in die “Speel met klippies” kompetisie.

 

Ada Gericke se coke bottels op vragmotor was 1 ste

 

‘n Baie aangename en interessante byeenkoms is afgesluit deur die proe van nuwe koue nageregte wat voorberei kan word vir die veilings op Cooper.  Die dames is almal ‘stroopsoet’ huis toe.