Sirkel: Tygerberg

Tak: Durbanville

Beriggewer: Ester de Bruyn

Datum: 14 Februarie 2019

 

 

SHARON TERBLANCHE

Op 5 Februarie 2019 verhuis Sharon op ‘n jong ouderdom, na haar hemelse woning, 2 dae voor haar 65ste verjaardag.  Na ‘n jaarlange baklei teen kanker, het sy die stryd verloor.

 

 

Sharon was vir 32 jaar lid van VLV.  Sy het by George aangesluit, en met hul verhuising Kaap toe, het sy by Durbanville tak aangesluit, waar sy 27 jaar lid was.  Sy het dadelik op die bestuur gedien en was ook vanaf 2000 tot 2007 voorsitter.  Gedurende hierdie tyd het sy die leiding geneem met vele funksies en byeenkomste wat ons tak gereëlcc het, onder andere die Red Hatters funksie in die Barnyard, Willowbridge, wat ‘n uiters groot sukses was en waaroor daar vandag nog gepraat word.

 

Sy was ‘n baie talentvolle vrou wat gereeld aan al die kompetisies deelgeneem het en baie bekers en pryse gewen het.  Met ‘n groot hart en ‘n oop hand het sy baie mense gehelp – meer as wat ons kan tel.  Sy was ook ‘n uitstekende besigheidsvrou.  Sy het 5 melkprodukte winkels, Dairy Exchange, suksesvol bestuur.  Sy het nie geskroom om VLV funksies te borg nie.

 

Sharon was baie geliefd onder VLV lede.  Sy het voluit gelewe, het nie geskroom om haar sê te sê nie en was baie keer kaatjie van die baan.  Wanneer sy gewerk het, het sy hard gewerk en wanneer sy gepartytjie het, het sy hard partytjie gehou.  Sy het gehou van mooi aantrek, was altyd perfek gegrimeer en die blonde hare was in ‘n netjiese Franse rol.  Jy kon haar altyd deur ‘n ring trek.

 

VLV het ‘n groot rol in haar lewe gespeel, maar sy het vir haar familie gelewe, wat sy op die hande gedra het. Sharon het diep spore in baie harte en lewens getrap – ons sal haar nooit vergeet nie en sal haar oneindig mis.  Sy laat haar man, Terry, dogter, seun, skoonseun en -dogter, en ‘n kleinkind van 4 maande agter.

 

Durbanville salueer Sharon Terblanche!