Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 13 Februarie 2019

 

Beroepskeuses

 

      Chalene Pretorius

 

Chalene Pretorius was die spreker by VLV Kuruman-tak se vergadering wat op Woensdag 13 Februarie 2019 by die El Gibbor Kalahari Bikers’ Church in Kuruman gehou is. Die kerk is vrolik met rooi harte en materiaal versier met Valentynsdag so om die draai. Die tema vir die vergadering was: “Beroepskeuses”.

 

Chalene Pretorius was vir tien jaar Direkteur by die Phoenix Jeugontwikkelingsorganisasie waar sy gewerk het met kinders in konflik met die gereg. Sy het in hierdie tyd ‘n liefde vir onderwys ontdek en deur Unisa begin studeer. Sy is die afgelope nege jaar ‘n Hoërskool onderwyseres wat Engels en Aardrykskunde gee by Sediba Academy.

 

In haar praatjie sê sy juis dat ouers, onderwysers en leerders hulle nie moet vasstaar teen die tradisionele Universiteitsopleiding wanneer dit kom by beroepskeuses en studies nie. Daar is ander maniere op by jou einddoel uit te kom en geleerdheid te bekom.

 

Sy spoor ouers en onderwysers aan om “uit die boks” te dink. Kinders word baie maal in ‘n boksie gedruk wat die ouers pas, dan word daar van die kind verwag om gelukkig te wees en te presteer, maar die kind wil nie eens in daardie boksie wees nie.

 

Sy sê dit is nie noodwendig die beroepskeuse wat die probleem is nie, maar in baie gevalle is dit hoe ouers en onderwyser reageer op ‘n kind se keuses. Kinders het meer ondersteuning nodig wanneer hulle ‘n vak of beroep kies wat anders is as wat die ouer of onderwyser sou wou kies.

 

Wat is die kind se belangstelling? Hy wil dalk nie ook ‘n dokter soos Pappa word nie, maar dalk eerder ‘n sendeling in Malawi. Is jou kind kunssinnig, akademies of Wiskundig?

 

 

 

Chalene Pretorius

 

Kyk ‘n bietjie wat nou in die werkswêreld aangaan. Daar is wel beroepe wat defnitief Universiteitsgrade nodig het, maar daar is byvoorbeeld ook groot geleenthede vir entrepreneurs in Suid-Afrika. Die opsies is legio.

 

Dit is byvoorbeeld nie wys om kinders te dwing om Wiskunde en Wetenskap te neem as dit nie hulle aanleg is nie. Hulle doen dan swak in die vakke en verloor Universiteitsvrystelling, waar hulle dalk in ‘n ander vak baie beter sou doen en wel Universiteitsvrystelling kon kry.

 

VLV Kuruman-tak wil graag baie dankie sê aan Chalene vir dié praatjie wat hulle beslis ‘n bietjie laat nadink het.

 

 

Elidese Strydom

 

Tydens dieselfde geleentheid het die dames behoorlik aan Elidese Strydom se lippe gehang toe sy die liedjie, “Puddle of Gratitude” gesing wat sy self geskryf het. Sy het ook ‘n gedig voorgedra wat sy ook self geskryf het: “Renewed by Truth”.

 

 

 

 

Elidese Strydom

 

Beide handel oor God wat ‘n mens se selfbeeld herstel en oor jou denke wat hernuwe word deur Christus. Dit gaan oor hoe jy jouself sien en hoe God dit kom restoureer – jou identiteit in Christus en hoe lief Hy jou het. Die dames kon nie uitgepraat raak oor die impak wat dit op hulle gehad het nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Voorsitter van VLV-Kuruman-tak, Marianne Vorster.

 

Voorsitter van VLV-Kuruman-tak, Marianne Vorster, het haar opgewondenheid oor VLV Sirkel Kalahari se 86ste Konferensie wat op Donderdag 7 Maart 2019 by die NG Moedergemeenstesentrum op Kuruman deur dié tak aangebied word gedeel. Die konferensie se tema is: “Laat ‘n voetspoor”.

 

Die geleentheid is afgesluit met heerlike eetgoed.