Sirkel: Noordwes-Kaap

Tak: Prieska

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Erika Lubbe

Datum: 13 Februarie 2019

 

Tema: Die Bloedgroepdieet

 

Februariemaand – die maand van die liefde! Die gasvrouens, Liz-Maré Lubbe en Samantha Groenewald, het die liefdestema uitgebeeld in die tafelversierings en ook die versnaperinge wat hulle voorgesit het. Hulle het die tafel pragtig in rooi getooi met ‘n rooi tafeldoek en 2 groot rooi harte van gevlegte hout. Die rooi eetbare hartjies, uit waatlemoen gesny, was suikersoet en ‘n treffer.

 

Karen Greyling het geopen met ‘n voorlesing uit Bruistablette vir die lewe van Susan Coetzer met die gedagte vir die dag: Ware liefde is om jou kritiese bril af te haal.

 

Die spreker, Rinsie Groenewald, het almal geboei met haar praatjie oor die Bloedgroepdieet.

 

Baie mense glo vandag dat sekere bloedgroepe ‘n hoër risiko vir sekere siektes toon en dat jy volgens jou bloedgroep moet eet, omdat die kos wat mens eet chemies reageer met jou bloedtipe. Jou liggaam verteer ook jou kos beter as jy ‘n dieet geskoei op jou bloedgroep volg, jy sal gewig verloor, meer energie hê, emosioneel meer stabiel wees en dit kan siektes bekamp (jou weerstand verhoog). Elke bloedgroep is dus bepalend vir die kossoorte wat geëet moet word.

 

Die O-bloedgroep was die beste verteenwoordig op die vergadering en sy het dus hierdie groep breedvoeriger behandel.

 

Die O-bloedgroep is geneig tot stres en weens die hoë sure inwendig teenwoordig, is hierdie groep geneig tot maagsere; hulle skildklier moet gereeld getoets word; hulle is geneig tot gewrigsiektes (artritis) en beroerte; hulle het ‘n hoër risiko vir cholera, maar ‘n laer risiko vir pankreaskanker; hulle is ook geneig tot depressie en erge angs veral as dit in die familie is.

 

Hierdie tipe bloedgroep kort daagliks goeie kardio-oefening en moet ten minste sowat ‘n uur fietsry of draf. Inteendeel hulle akkordeer goed met strawwe oefening wat hulle goed laat sweet.

 

Hul dieet moet geen gepekelde kosse, speserye (veral kaneel), klapper, tee, koffie, naartjies en lemoene bevat nie. ‘n Hoë proteïeninhoud met maer rooivleis moet gehandhaaf word (lewer is baie goed); hoender; seekosse (veral stokvis, sardientjies en slakke); groente (veral spinasie, boontjies, kool, broccoli en minder grane); die minimum suiwelprodukte – soos eiers en botter (liefs nie cheddar- en gouda kaas nie, maar eerder wit kaassoorte); olyfolie en hawermout (oats) is baie goed; nie te veel neute nie (pampoensade en okkerneute is goed, maar geen grondboontjiebotter of grondboontjies nie).

 

Vrugte moet alkalies wees: rooi (bessiesoorte behalwe aarbeie), pers en blou vrugte (bessies en druiwe.) Pomelos en veral suurlemoene is baie goed. Suurlemoene is alkalies en stabiliseer die suurvlakke in die liggaam, want daar is ‘n hoë konsentrasie suur teenwoordig  wat moet help om die vleis te verteer. Indien hierdie groep verkeerd eet, veroorsaak hierdie hoë suurinhoud maagsere.

 

Die A-bloedgroep moet ‘n vleisvrye dieet met groente en vrugte, boontjies, peulplante en volgrane (wat organies en vars is) volg, omdat hierdie bloedgroep ‘n sensitiewe immuunstelsel het en meer geneig is tot kolonkanker. Hulle ervaar ‘n risiko vir onvrugbaarheid, baarmoederkanker en hartsiektes.

 

Die B-bloedgroep moet mielies, graan, lensies, tamaties, grondboontjies, sesamesaad vermy en ook hoender word nie aanbeveel nie. Groen groente, eiers, laevetsuiwel en sekere soorte vleis word aanbeveel. Hierdie bloedgroep is meer geneig as ander bloedgroepe tot baarmoederkanker en hartsiektes.

 

Die AB-bloedgroep moet fokus op seekos, suiwel en groente, omdat mense met hierdie bloedgroep lae maagsuur het. Vermy alkohol, kafeïen en gerookte vleis. Hierdie bloedgroep is ook meer geneig as ander bloedgroepe tot hartsiekes en baarmoederkanker.

 

 

 

Vlnr: Cecilia Jacobs (Saamroeper van Kunste en Handvlyt), Surietha Kotze en Karen Greyling

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liz-Maré Lubbe (Saamroeper van Gesondheid en gasvrou), Rinsie Groenewald (spreker), Samantha Groenewald (gasvrou)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Vlnr: Lulu van Wyk (Taksekretaris) en Jacobie Botha (Saamroeper van Opvoeding en Kultuur)

 

 

 

Vlnr: Alta de Jager en Corrie Liebenberg (Takvoorsitter)