Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 13 Februarie 2019

 

Wanneer die tyd vir Acqua se eerste samekoms aanbreek, is die Kwa-Kwa’s lankal uit hul nate by die blote vooruitsig van die weersiens-lekkerte. Alles is wel in die Acqualede se wêreld as daar eers brood gebreek is met mekaar.

 

Teen Februarie het elke hoender genadiglik al lankal pad gevat nes toe. Die lewe kan weer voortgaan. Die skole se deure is oop en daar’s parkeerplek te kus en te keur in die stad. Die jaar is uit die blokke. En vir Acqua gaan dit ‘n vól jaar wees. Sirkel Middelland se 85ste Konferensie is een van die groot gebeurlikhede op die program, want Acqua is gasvrou vir die geleentheid,

 

Lede weet om hulle arms sommer vêr uit die moue te steek vir die jaar wat voorlê. Die vingers sal sommer goed geroer word, want elke vinger het ‘n taak. ‘n Doel. ‘n Bydrae om te lewer. 2019 is Acqua se jaar!

 

Getooi in iets rooi om die maand van liefde te vier, het die VLV- jaar op ‘n HARTlike noot afgeskop. Glad nie moeilik as daar in elk geval met liefde in die oë en warmte in die hart na mekaar gekyk word nie.

 

Die rooi-getooides het tot hulle eie Vaaltyn gehad. David Bester, ‘n lektor in die Musiekdepartement van die Nelson Mandela Universiteit, is ‘n viool virtuoos. ‘n Wêreldklas viool virtuoos. Die man se CV is langer as altwee sy arms wat hy meesterlik gebruik om towerklanke uit die viool te laat gly. David het meestersgrade (albei cum laude) van die US, asook die Royal Conservatoire of Antwerp. Hy het almal in die regte stemming vir die aand en die maand gebring met sy keuse van komposisies.

 

Naas olie is koffie die produk met die 2de hoogste verbruik in die wêreld. Eens op ‘n tyd was koffie selfs grondige rede vir egskeiding. ‘n Turkse bruidegom moes sy bruid belowe dat hy haar altyd van koffie sou voorsien. Sou hy in hierdie belofte faal, het sy grondige rede gehad om van die treurniet ontslae te raak. Gelukkig was daar geen rede om van Jacques Victor ontslae te raak nie. ‘n Treurniet is hy beslis nie. ‘n Koffiekenner inderdaad.

 

Enige boeretroos-verslaafde, sawwelyf-aanhanger, weet hoe gelukkig PE is om die tuiste van Suid Afrika se oudste koffieroostery te wees. Die roostery, Mastertons Coffee and Tea Specialists, is in 1924 deur Jock Masterton begin en sal vanjaar 95 jaar oud wees. https://mastertonscoffee.co.za/

 

Jacques, bemarker van Mastertons, het almal behoorlik aan sy lippe laat hang met sy uitgebreide koffiekennis. Koffiebone is nie eintlik bone nie, maar bessies. Die koffieboombos dra bessies wat in lande soos Colombia en Costa Rica een vir een met die hand gepluk word.  Hierdie manier van oes word gewoonlik met die nat metode verwerk. Daar is ‘n gistingsproses wat tydens hierdie metode plaasvind en dit, tesame met die feit dat net heeltemal ryp vrugte gebruik word, lewer ‘n smaaklike en matige koffie van uitstekende gehalte.

 

Daar is ongeveer 70 soorte koffieplante in die wêreld. Sowat 98% van die wêreldopbrengs is egter van nét twee soorte plante afkomstig. Coffea arabica, of eenvoudig bekend as arabica en Coffea canephora, wat ook as robusta bekend is, is die twee voorkeur plantsoorte.

 

Jou ‘volmaakte’ koppie koffie het ‘n tydrowende en arbeidsintensiewe proses agter die rug. Daar is geplant, bewerk, geoes, verwerk, geklassifiseer, vermeng, gerooster en gemaal.

  • Brasilië is die wêreld se grootste koffieprodusent.
  • Finland is die wêreld se grootste koffieverbruiker.
  • Plastiek-verpakte koffie hou so ongeveer 60 dae.
  • Eens koffie oopgemaak is, moet dit in die yskas gebêre word. In ‘n lugdigte houer.
  • Beethoven het geglo dat 60 koffiebone die volmaakte koppie koffie maak.

 

Ons gaan beslis nooit weer die aroma van koffie geniet, sonder om gedagte te gee aan die lang proses van plant tot koppie nie.

 

Die aand se kuier is natuurlik, heel gepas, afgesluit met ‘n lekker cappucino.

 

Maartmaand is op ons jas en behalwe vir die volgende samekoms, is Maartmaand mos konferensiemaand in VLV-geledere. Regoor die Kaapprovinsie sal daar gekonfereer word oor VLV-sake. Die 85ste Konferensie van Sirkel Middelland vind op 20 Maart in die Internasionale Konferensiesentrum van die Sun Boardwalk plaas. Acqua is gasvrou vir die geleentheid en soos dit die Kwa-Kwa’s se gewoonte is, sal daar ook met die konferensie gróót uitgehang word!

 

Hef aan met konferensiereëlings lê voor. En dan gaan ons weer jaffels bak. Miskien sommer ‘n hele 2000 van die boepensbroodjies. Op een dag. Vir Acqua is niks mos ontmoontlik nie. Die wedvlugduiwe gaan in Junie sirkels in die blou lug maak ten bate van Acqua se bankbalans. Intertak is so te sê klaar gereël, want dis vanjaar Acqua se beurt om ook daarvoor gasvrou te wees. Krismis kom weer in Julie. Talentvolle kunstenaars met sawwe harte sal hier by Oktober ingespan word om te skilder en dit aan Acqua te skenk vir ‘n geskrewe veiling. Die geld wat ingesamel word, word aan KANSA Oos-Kaap geskenk.

 

Intussen klik die breipenne om kombersies te maak vir die oues en siekes. Plastiekdoppies en broodknippies word deurentyd aangedra, want êrens is daar iemand wat ‘n rolstoel nodig het. Acqua gee hand (of liewer kruideniersware) met voedingsprojekte by twee plaaslike laerskole. Hondekos en veeartsrekeninge is ook op die program.  Om nie te vergeet van elke maand se 85 (om ons Sirkel se bestaansjare te vier) toiletrolle vir ‘n plaaslike Ouetehuis nie. Dan is daar nog nie eers gepraat van Acqua se Oues wat al sedert 2006 met maandelikse kruideniersware, begrafnispolisse en besoeke ondersteun word nie.

 

Die jaar is volgepak met gebeurlikhede en projekte. Lekker. Sien hoe roer daai vingers wat by die moue uithang!