Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 23 Januarie 2019

 

 

 

Die Leefstyl-groep wat die vergadering aangebied het, is kloksgewys om die tafel – Bessie Kriek, Rina Sceepers, Janet Strydom, Karin van der Walt, Alta Roets (Leefstyl-Saamroeper), Hettie Krüger, Janet West en Fransie Scanlen. Ander lede van die Leefstyl-groep is Emmie Cloete, Christa Kuhn en Rolien van Noordwyk.

 

Die Leefstyl-groep van die VLV Kuruman-tak het op Woensdag 23 Januarie 2019 die eerste vergadering vir die jaar aangebied met die tema: “Interieur”, waarin hulle veral gefokus het op hoe ‘n mens skilderye kies en waar dit gehang moet word. Daar is egter ook oor ‘n fokusmuur met foto’s op gepraat.

 

Hettie Krüger.

 

Hettie Krüger het die opening behartig met ‘n aanhaling dat ‘n vrou soos ‘n horlosie is – jy sien net die arms beweeg, maar diep binne haar is God se Gees aan die werk om haar energie te gee om voort te gaan. Sy gee rigting en almal kyk gedurig na haar om koers en orde te behou. “Elke keer as jy ‘n horlosie in jou huis sien, kan jy daaraan dink”.

 

Daarna het Hettie die bekende Spreuke 31 gelees oor die knap vrou.

Sy sluit met die volgende gebed af: “Here, ek weet nie alles van my vriendin se lewe af nie, maar U weet. Ek hoor haar stilbly, maar U hoor haar pleit as sy bid. Ek sien as sy glimlag, U sien as sy huil. Ek sien wat sy gee, U weet wat by haar gevat is. Ek weet sy glo, U weet sy twyfel soms. Ek bring haar met hierdie gebed voor U. Gee haar asseblief alles wat sy nodig het en ‘n sekerheid dat U altyd by haar is. Amen.”

 

 

 

 

 

Stephan Roets.

 

Pret op die dansvloer! Janet Strydom (middel voor), Zelda Lombaard (regs voor) en Ansie Venter (agter) is sigbaar op die foto.

 

Dansinstrukteur, Stephan Roets, het die dames laat litte losmaak. Hy het die dames letterlik op hulle tone gehad. Dié jong dansinstrukteur het vir die dames ‘n paar danspassies gedemonstreer wat hulle agterna kon doen. Dit was hope pret!

 

 

Edna Duvenhage wys die skildery van Irma Stern voorop ‘n brosjure.

 

Spreker, Edna Duvenhage, het gepraat ook “Die keuse van skilderye”. Sy sê die eerste belangrikste punt wanneer jy ‘n skildery koop, is dat dit vir jou mooi moet wees, want jy gaan nog lank daarin vaskyk! Die duurste skilderye is gewoonlik olieverf op doek, omdat die leeftyd daarvan baie lank is. Ander gewilde opsies is olieverf op bord of papier, akriliese verf of waterverf op papier (agter glas). Gouache kan ‘n baie interessante tekstuur hê.

 

Die volgende groot vraag wat jy jouself moet vra is “Kan ek dit bekostig?” Sy stel voor dat mens by ‘n kunsgallery met ‘n agent gesels – dis mense met goeie kennis wat jou op die spoor van ‘n ontluikende kunstenaar kan sit.

 

Moenie noodwendig kuns koop wat by jou gordyne pas nie – die kunswerk gaan die gordyne ver oorleef. Oorweeg dalk iets in swart op wit, soos houtskool op papier. Moet jou ook nie blind staar teen iets wat vir jou mooi is, maar nie olieverf op doek is nie. Sy vertel van ‘n Irma Stern skildery van gouache op papier wat by ‘n veiling op R800 000 begin het.

Sy het ook na afloop van die vergadering met belangstellendes gesels oor Woordkuns. Daar het sy gesê dat die heel belangrikste ‘n goeie storielyn is.

 

Bernice Kotze.

 

Edna se dogter, Bernice Kotze, het oor die hang van skilderye gesê dat ‘n mens ingedagte moet hou dat ooghoogte skilderye altyd eerste raakgesien sal word.

Bernice het begin met ‘n aanhaling van Nate Berkus wat sê jou huis moet die storie vertel van wie jy is en dit moet ‘n versameling wees van dinge waarvoor jy lief is.

As ‘n mens skilderye of ander versamelings (byvoorbeeld borde) teen ‘n muur hang, hou in gedagte dat mens met die eerste oogopslag outomaties ooghoogte kyk. So as jy ‘n oop muur het, hang jou hoof item 1.4 tot 1.6 meter bo die vloer. As jy meubels teen ‘n muur het, kan die skilderye die lyn van die meubels herhaal en dan hoër hang.

Hou die vorm van die muur ingedagte. As jy ‘n muur het wat horisontaal langer is as wat dit hoog is, sal die skildery wat jy daar hang in landskap-formaat wees. As die muur hoër is as wat dit breed is, sal jy eerder ‘n portret-formaat daar hang. Drie portret-formaat skilderye langs mekaar wat in totaal ‘n landskap-formaat vorm kan ook werk vir eersgenoemde en omgekeerd. Dit wat op die muur hang vorm ‘n eenheid.

Waardevolle skilderye moet nooit in direkte son hang nie. Jy kan liggies installeer om die skildery tot sy volle glorie te belig.

 

As jy skilderye groepeer, speel tema en kleur ‘n rol, maar jy kan ook drie-dimensionele dekor items meng met plat skilderye. Daar is drie tipes groeperings – Die soliede groepering, waar al vier sye gelyk eindig, die lukrake groepering, waar geen lyne in ag geneem word nie en die stadsprofiel waar drie kante gelyk eindig en die vierde kant ongelyk – dit lyk soos ‘n stadsprofiel waar party geboue hoër as ander is.

 

Yuzelle Nienaber.

 

Yuzelle Nienaber was die hoofspreker. Yuzelle het ‘n Diploma in Binneshuisversiering van die wêreldbekende The Design School South Africa. Sy het ook ‘n Grafiese Ontwerp maatskappy wat haar baie besig hou. Sy doen van besigheidskaartjies tot die ‘wrapping’ van geboue. Binneshuisversiering het uiteindelik net ‘n stokperdjie geword wat sy verskriklik baie geniet.

 

Haar voorlegging gaan oor al die wonderlike goed wat sy al gedoen het om ‘n famileboom op ‘n muur te plaas. Ons het almal daardie muur in ons huis wat skree vir ‘n bietjie aandag. Waarom maak jy dit nie ‘n fokusmuur om iets so kosbaar soos jou familie en spesiale herinneringe vas te vang nie? Jy kan die muur ‘n ander kleur (maar komplimenterend) as die ander mure verf. En dan byvoorbeeld ‘n boom uit muurkuns (vinyl) daarop plak. Die boom verander in ‘n volwaardige familieboom wanneer jy foto’s in rame in die takke hang. Dit is byvoorbeeld ‘n goeie idee om eers jou raampies op die vloer uit te pak en om maskeerband teen die muur te plak waar die raampies gaan hang.

 

Dis belangrik dat alles bymekaar pas. Gebruik byvoorbeeld net wit en swart foto’s om dit as eenheid saam te bind. Sorg dat die foto by die raam pas. Swart of silwer rame kan gebruik word vir foto’s met hoë kontras, terwyl goue rame weer goed werk vir foto’s met baie groen en ook familiefoto’s. Donker houtrame werk goed vir speelse foto’s en moderne wit rame lyk ook altyd mooi vir familiefoto’s!

 

VLV Kuruman-tak se Bestuur vir 2019. Voor: Alta Roets (Leefstyl-Saamroeper), Zelda Lombaard (Gesondheid-Saamroeper), Ansie Cilliers (Landbou en Tuinbou-Saamroeper) en Hettie Krüger (VLV Bemarker). Agter: Bessie Kriek (Argivaris), Petro Spangenberg (Kunste en Handvlyt-Saamroeper), Theresa Potgieter (Kunste en Handvlyt-Saamroeper), Sarina Malan (Openbare Sake-Saamroeper), Maryke Strydom (Opvoeding en Kultuur-Saamroeper), Janet West (Tesourier) en Marianne Vorster (Voorsitter). Die posisie van Sekretaresse is tans nog vakant.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Elien Menge is vanaf 2019 verantwoordelik vir die hantering van die kompetisie inskrywings.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die tak se batik-inskrywings is ook tydens die geleentheid beoordeel.