Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 06/12/18

 

Sonder slag of stoot het ons hierdie jaar tot op sy rug geleef. Ondenkbaar. Ons het dan sommer net nou die dag aan die begin gestaan. Planne en voornemens gehad vir die 365 dae wat ongerep en vol potensiaal voor ons uitgestrek het. So het ons van die een verpligting na die volgende gebeurtenis die dae ingeryg. Soveel so dat die weke sienderoë maande geword het en die jaar nou haas op end is. Ons het soveel goeie en lekker tye beleef. Tye wat in die hart gebêre is. Helaas ook moeilike, seer dinge ervaar, wat vir altyd ons lewenspad sal beïnvloed. Maar hier is ons nou. Uitgespaar. Dankbaar.

 

Ons VLV-lidmaatskap, die Acqua-vriendekring, was beslis een van 2018 se hoogtepunte. Nêrens het ons mekaar ráák geleef, sonder dat dit ‘n okkasie was nie. Elke stukkie samesyn, enige vorm van kommunikasie, het ons harte warm gemaak. Ons het mekaar nie net in gedagte gekoester nie, maar mekaar ook in gebed gedra. Wat ‘n grote voorreg is dit nie om deel te wees van ‘n groep sterk, talentvolle, deernisvolle vroue by wie jy na waarde geag word nie. Ten spyte van uiteenlopende behoeftes, ingesteldheid en agtergrond, kon ons in die geborgenheid van oordeellose samesyn ons horisonne verbreed. Acqua het ons die afgelope jaar weereens die geleentheid gebied om gedeelde belangstellings te ontgin. Ons kon na elke samekoms verryk, ingelig en sielstevrede huiswaarts keer.

 

VLVK se tema vir die nuwe jaar is “Laat ‘n voetspoor”, maar Acqua het reeds die afgelope jaar, soos elke vorige jaar, diep, navolgenswaardige spore gelaat. Alles wat ons aangepak, beplan, gereël, uitgevoer en afgehandel het, was met sukses geseën. Deelname of ondersteuning, tyd of geld, niks was ooit te veel gevra nie. Elke vergadering, spreker, demonstrateur, projek en fondsinsameling was ongetwyfeld VLV-waardig. Die Acqualede is ‘n gedugte span met harte soos waenhuise, flinke hande en altoos vol ongebreidelde entoesiasme. 2018 was ‘n fenomenale jaar.

 

Dis al lank tradisie om die Acquajaar met ‘n Kersfees Kabaret af te sluit. Geen uitsondering in 2018 nie. The Creed is ‘n multi-genre a cappella groep, bestaande uit vier mans. Acqua kon nie al 4 bekostig nie, so daar was nét drie by die afsluiting. GRAPPIE. Daar was inderdaad net drie van die groep, want die 4de lid het ongelukkig ‘n ander verpligting gehad. Vier of drie, dit het niks saak gemaak nie, want sing, die kan hulle sing. Marvin Draai, Andrew Kock, Alfred Felkers en Virgil Matras is bekend vir hulle vertolking van veral geestelike liedere. Dit was net ‘n absolute plesier om na hulle te kon luister. Dit het almal in die regte stemming vir die Feesseisoen gebring. Wie kan nou onaangeraak bly as jy na O Holy Night, Mary did you know en Silent Night luister.

 

 

Die lokaal was mooi gemaak en die tafels baie spesiaal gedek, met die hulp van AW Events. Acqua se goeie vriend, Marius de Vries, van Angel Art het die allermooiste papierengele gemaak wat in ‘n glasklok gestaan het as middelplasing op die tafels. Sjef Jeanine Botha en haar span van PEGC het gesorg het vir ‘n smullekker en baie feestelike buffet. Selfs nie eers Eskom met hulle onwelkome beurtkrag kon ‘n demper plaas op die aand se vrolikheid nie. Die kersies het geflonker en daar’s vir oulaas lekker gekuier, want na die afsluiting lê hef aan voor. Deur die Seisoen en annerkant kuiermense verby,  sien die Kwa-Kwa’s mekaar eers weer in Februarie 2019. Teen daai tyd is almal soos perde wat stal geruik het. Die hoewe gaan kap om by mekaar uit te kom!

 

    

 

Mag hierdie Kersgety vir ons almal groot vrede en rustigheid bring in die wete dat ons ‘n Almagtige en Wonderbare Heerser dien. In hierdie seisoen van oormaat, bid ons vir ‘n oormaat verdraagsaamheid, vergifnis, geduld en respek – nie net teenoor almal wat ons omring nie, maar ook teenoor onsself.

 

Die aand sou nie so ‘n reuse sukses kon wees sonder die hulp en/of borgskap van:

  • AW Events
  • CB Entertainment
  • The Creed
  • Port Elizabeth Gholfklub