Sirkel: NOK

Tak: Dordrecht

Studierigting: Landbou

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 14  November  2018

 

Vir die tak se jaarafsluiting het 3 voertuie vol vrolike vroue vroegoggend die langpad aangepak na Ugie. Op Elliot is daar by die besonderse NG Kerk stilgehou, waar hul Muur van Herinnering ‘n presiese replika van die groot kerkgebou is. Nadat Sirkel Noordoos-Kaap se uittredende Sirkelpresident, Ina Bekker, op Ugie opgelaai is, is ontbyt genuttig en het Elize Oosthuizen (wat die dag gereël het) die program uiteengesit.

 

Vervolgens is na die plase van Toy & Elize Myburgh beweeg waar eerstens na die Varkboerdery gekyk is. Arenza van Staden ken die boerdery op die punte van haar vingers en sy het baie interessante inligting gedeel. Alles word op die plaas gedoen – van teel, hokke skoonmaak, verwerking van die vleis en bemarking. Lede was ook gelukkig om ‘n Sog in kraam te aanskou…..

 

Daarna is die groep na Elize Myburgh se blomtuin waar haar strewe is dat die tuin nie van water afhanklik moet wees nie. Sy plant bv roossteggies wat sy self afsny deur 4 ogies bó die grond te hou en 4 ogies ónder die grond. Dan hou sy dit goed nat – en álles groei élke keer! Chris Gouws van Ugie het met sy wonderlike kennis van blomme en plante, inligting oor ELKE aspek van die tuin gegee.  Ná verfrissende verversings en heelwat pasellas, was almal geïnspireerd vir hul eie tuine.

 

Die volgende stop was Hennie Matthee se Sterkfontein Kwekery, kort duskant Maclear. Hy het 48 jaar gelede daar ‘n lushof-tuin en ‘n kwekery begin op 3 ha grond. En dit brei steeds uit! Behalwe plante en beelde, is daar ook pragtige sithoekies en selfs ‘n onthaalarea. Ná verversings het die groep na Maclear vertrek vir ‘n vinnige besoek aan die restaurant en geskenkwinkel.

 

Wat ‘n voorreg om deel van VLV te wees, en gedurig nuwe dinge te ontdek! Baie dankie aan Elize Oosthuizen vir haar puik reëlings, en almal wat deel gehad het aan die lekker dag!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Elliot se NG Kerk en Herinneringsgeboutjie

 

 

 

 

 

 

 

Elize Oosthuizen, Arenza van Staden en Effie Jonker tussen die netjiese varkhokke.

 

‘n Hoekie in Elize se tuin

 

Voor poseer Bertha Rossouw en Elize Myburgh. Agter staan Antoinette van Pletzen, Martha Schmidt, Effie Jonker, Ina Bekker, Chris Gouws, Sonja Kruger, Lenie Fourie, Lida Rossouw, Dawn du Preez, Rentia Bekker en Anna van Heerden, met Elize Oosthuizen heel agter

 

‘n Hoekie by die Kwekery