Sirkel: Paarl
Tak: Suider-Paarl
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Elsa Hanekom
Datum: 24 Oktober 2018
Gavin Williams van Rennie Farms het vroeër in die jaar die tak toegespreek oor Voedselsekerheid en het by die geleentheid die dames uitgenooi om een van hul plase te besoek.
Toe dit tyd word om ons jaarlikse uitstappie te beplan, was dit dus ‘n baie maklike besluit oor waarheen ons die jaar sou gaan.
Op ‘n snikheet warm dag het ons lede die plaas, Rye Denne, so ongeveer 20 km buite die Paarl, besoek.
Rennie Farms het 2 plase in die Paarl-omgewing en ook ‘n plaas naby Vioolsdrift. Hulle voorsien tamaties, komkommers en kruie aan hoofsaaklik Woolworths.
Rye Denne is ongeveer 45 hektaar groot en daarvan is ongeveer 20 hektaar onder tonnels. Hier is slegs tamaties op die plaas. 12 Variëteite tamaties word hier aangetref.
Gavin en Willie du Preez, plaasbestuurder, het ons deur die tonnels vergesel.
‘n Volgroeide tamatieplant (standaard tamatie) gebruik 2 en ‘n half liter water per dag en lewer 6 tot 7 kg tamaties. Elke week word 60 tot 80 ton tamaties geoes.
Die eerste tonnel wat ons besoek het, was vol jong plantjies wat 2 weke voor ons besoek aangeplant was. Na die eerste blommetjies aan die plant gesien kan word, neem dit nog 8 weke voor die tamaties gepluk kan word. Alles word met die hand gepluk. Hierdie tamaties is geoogmerk vir die feesgety.
Oral om die pale is geel plastiek gedraai wat met ‘n spesiale gom besmeer is. Insekte word deur die geel kleur aangetrek en sit dan aan die gom vas.
Die tweede tonnel wat ons besoek het, was vol van ‘n kleiner variëteit tamatie. Hier het Gavin en Willie vir ons elkeen ‘n houertjie gegee en ons uitgenooi om van die tamaties te pluk en te eet soos ons deur die rye beweeg het. Hierdie tonnel is ook vol predatore wat die insekte beheer.
Na ons die tonnels besoek het, is ons na hulle kantoor vir tee en hier het ons die geleentheid gekry om ook van die ander variëteite te proe.
43% van Rennie Farms behoort aan die werkers.
Rye en rye tonnels vol tamaties
In hierdie tonnel kon ons self tamaties pluk en proe
Wilma Kock en Gavin Williams
Hier is van Suider-Paarltak se lede wat die uitstappie meegemaak het
Marie Neethling, Margaret Rossouw en Elaine Joubert geniet ‘n koppie tee met Ely Brown en Gavin Williams in die agtergrond
Leave A Comment