Sirkel: Noordwes-Kaap

Tak: Prieska

Beriggewer: Erika Lubbe

Datum: 7 November 2018

 

VLV Prieska is 85 jaar oud

Tema van die vergadering: Laat ’n voetspoor!

VLV Prieska is vanjaar 85 jaar oud – ’n feestelike geleentheid wat ook kombineer is met die jaarafsluiting. Die tafels was pragtig versier en het gekreun onder allerhande lekkernye soos net VLV Prieska kan maak!

 

Annatjie de Villiers, die langste lid van VLV Prieska, het treffend geopen deur voor te lees: Bril vir die nuwe jaar uit ’n Aarde nuut en vry deur Kobus van der Westhuizen.

  • Die eerste bril is die bril vir die pessimis.
  • Die tweede bril is die bril vir die optimis.
  • Die derde bril is die bril van geloof.

 

Dit is ons eie keuse watter bril ons vir die volgende jare vir VLV Prieska wil opsit!

 

Die skrywer, digter en kunstenaar, Elma de Jager, het as spreker opgetree. Sy beskryf die verskillende voetspore wat ons kan agterlaat:

  • Voetspore op ‘n eensame pad.
  • Voetspore op ‘n kronkelpad.
  • Voetspore op ‘n
  • Voetspore op ‘n duwweltjiepad.
  • Voetspore op ‘n reguitpad.

 

Ons kan ook skewe of reguit voetspore laat.

 

Sy gebruik die voet wat uit 3 dele bestaan ter illustrasie:

  • Die tone
  • Die brug
  • Die hak

 

Die tone

Die eerste toon is die vastraptoon  – die hartsvriendin teenoor wie ander hul hart/probleme/ bekommernis/vreugdes kan uitstort.

 

Die tweede toon is die omgeetoon wat sorg vir omgee, deernis en vreugde.

 

Die derde toon is vir emosie – emosie vir vrees, vir angs, vir bangwees en ook emosie vir geluk, vreugde en liefde.

 

Die vierde toon is vir ons talente wat ons met mekaar moet deel.

 

Die vyfde toon, die kleinste toontjie, bring al die vyf tone bymekaar in vreugde.

 

 Die brug

Die brug verbind die tone en die hak. Die brug dien as kommunikasiekanaal waardeur probleme suksesvol opgelos kan word.

 

Die hak

Die hak is die belangrikste deel van die voet om ‘n voetspoor te laat, want dit trap die duidelike voetspoor.

 

Ongeag die pad wat jy stap, sorg dat jy ‘n voetspoor van positiewe herinneringe laat: herinneringe van omgee, vreugde, geluk en liefde.

 

Elkeen het ‘n pragtige versierde kolwyntjie ontvang met ‘n lang kersie daarop wat almal gelyk opgesteek en doodgeblaas het. Corrie Liebenberg (Voorsitter) het ‘n heildronk ingestel op VLV Prieska se 85 goue jare waarop Erika Lubbe (VLVK-argivaris), Landi de Beer (Visevoorsitter) en Karen Greyling gelukwensings oorgedra het.

 

Daarna kon elkeen haar geskenk oopmaak waarna daar gedeel is in die vreugde van dankbaarheid, blye weersiens, saamwees, kuier en net sommer geniet. Weereens het ons besef hoe bevoorreg ons is om aan die VLV te kan behoort!

 

Wat ‘n heerlike middag wat nog lank onthou sal word!

 

Die pragtig versierde tafels.

 

Elkeen het ‘n pragtig versierde kolwynjie met ‘n lang, dun kersie ontvang.

 

Lulu van Wyk (Sekretaris) en Corrie Liebenberg (Voorsitter) klink ‘n glasie op VLV Prieska se 85 goue jare.

 

Elma de Jager (spreker) en Lizahn (lid).

 

Die lede Anel Liebenberg (Tesourier), Chrisna Coetzee, Annatjie de Villiers (wat die langste aan VLV Prieska behoort), Erika Lubbe en Cecilia Jacobs in vrolike luim.

 

Die lede Landi de Beer, (Visevoorsitter en Saamroeper van Leefstyl), Theresa Swart (Saamroeper van Landbou en Tuinbou), Surietha Kotze, Samantha Groenewald en Karen Greyling verkeer gesellig saam.

 

Die twee onderwyseresse en ook lede: Cecilia Jacobs en Celia Tredoux (Saamroeper van Kunste en Handvlyt).