Sirkel: Kalahari

Tak: Vryburg

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Nellie Viljoen

Datum: 23 Oktober 2018

 

Vryburg VLV fokus op die volhoubare benutting van leeus as deel van die bestuur van diere in die natuur. Carla van der Vyver, hoof uitvoerende beampte van die leeujagtersvereniging, vertel dat die teling van leeus suksesvol gedoen word. Dit verskaf werk aan baie meer mense as wat normale boerdery aktiwiteite doen. Leeus word tans nie as ‘n bedreigde spesie beskou nie, maar getalle elders in die wêreld neem drasties af.

 

In 2014 is daar 625 leeus vir trofees gejag wat ‘n inkomste van R200 miljoen vir die land genereer het. In 2016 het die VSA egter ‘n verbod op jagtrofees geplaas wat die hele bedryf verander het. Daar is streng regulasies wat jagtery reguleer. Leeus moet vrylik kan rondbeweeg in ‘n area wat minstens 1000 hektaar groot is, prooi moet vrylik beskikbaar wees en leeus moet deur ‘n spoorsnyer gevolg word. Geen lokaas mag uitgeplaas word nie.

 

Stropery van leeus is ‘n wesenlike probleem aangesien die kop en pote gewild is as moeti. Leeus word vergiftig en die karkasse gelaat in die veld wat dan tot die dood van aasvoëls lei. Leeubene mag egter wettig na die Ooste uitgevoer word.

 

 

 Carla van der Vyver by Vryburg VLV se vergadering

 

Nellie Viljoen beklemtoon die belangrikheid van bye in die natuur. Die mensdom benut heuning en bywas vir langer as 4000 jaar. Sonder bye sal daar geen blomme wees nie maar volhoubare voedselproduksie is net so afhanklik van bestuiwing. Insekte pas veral kruisbestuiwing toe. Die voortbestaan van bye word egter bedreig deur die gebruik van gifstowwe en natuurlike vyande wat wêreldwyd bykolonies kan uitwis.

 

Die voortbestaan van ‘n kolonie draai om die koningin, ‘n larwe wat spesiaal op koninginjellie gevoed word. Sy paar met verskeie hommels en lê meer as duisend eiers per dag vir die res van haar lewe. Werkerbye hou die eerste paar dae van hul lewe die nes skoon, dan help hulle om larwes te voer, nuwe wasselle te bou, nektar en stuifmeel te verwerk en eindelik met die insameling van kos. In haar lewe van 20 tot 40 dae sal die by haar letterlik doodwerk. Werkers moet ongeveer twee miljoen blomme besoek om sowat 500 g heuning te maak.

 

 

 

Werkers sal hul nes met hul lewens beskerm, aangesien die angel uit hul lyf skeur en tot die dood lei. Dit veroorsaak ‘n reuk wat ander bye aanlok na die vyand. Bye is gevaarlik en moet versigtig hanteer word. Byeboere gebruik rook voor ‘n bykorf oopgemaak word, aangesien vuur die kolonie kan bedreig.

 

Sodra die koningin nie meer voldoende feromoon afskei nie, begin werkers om nuwe koningin te kweek. Die ou koningin en ‘n aantal werkers verlaat dan die nes om elders ‘n nuwe kolonie te vestig. So ‘n trekswerm kan deur ‘n byeboer gebruik word om ‘n ‘baard’ van bye te vorm aangesien werkers heuning drink voor hul die ou nes verlaat en nie so aggressief is nie.

 

 

Nellie Viljoen

 

 

 

 

 

 

 

Kerse is aangesteek vir alle landbouers, vriendskap en almal met borskanker