Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 25 September 2018

 

Vlv verwelkom die lente.

“Lente” was die eregas by VLV-Kleinmond se maandvergadering op 25 September. Met vrolike hooftooisels wat gewissel het van ‘n enkele flambojante blom in die hare tot by vars of kunsblomme as versiering op ‘n tuinhoed, het die VLV-lede en gaste by die NG kerksaal aangekom. Op die verhoog was rangskikkings met ‘n verskeidenheid lenteblomme deur Ria Coetzee, aangevul deur ‘n versameling orgidië van Marinus Nolte om reklame te maak vir die Walker Bay Orgidievereniging se Lenteskou. Die samesang van lenteliedjies met begeleiding deur Charlotte Potgieter het vir vrolikheid gesorg, maar die lede ook aan die einde van Erfenismaand bewus gemaak van ons Afrikaanse sang- en natuurerfenis. Dit was egter die praatjie deur Corinne de Haas oor die terapie van tuinmaak, toegelig met ‘n demonstrasie, wat almal teenwoordig geïnspireer het om buite te kom en die vingers in die grond te kry. Die gasvroue van die Landbou&Tuinbou-groep het die fokus laat val op die tuinbougedeelte van dié portefeulje en spreker Corinne de Haas van Kleinmond Pottery het die dames met nuwe oë laat kyk na tuinmaak in potte – inderdaad ‘n oplossing vir Kleinmond se wind en molle!

 

“Die terapeutiese waarde van tuinmaak is wetenskaplik bewys, maar vir my is tuinwerk ook meditasie waar ek kan één wees met myself, my Skepper en die natuur en daardeur kan ontvlug as die lewe druk” het me De Haas gesê.

Sy deel met die gehoor hoe sy baat vind by die sintuiglike rykdom in haar tuin, dat sy die tuin kan ruik, die verskillende blaarvorms en blomme kan sien, die insekte kan hoor, die grond en die sonskyn kan voel. Sy het demonstreer hoe ‘n mens ‘n kruietuintjie met jou gunsteling tipes kruieplantjies in ‘n pot plant, ‘n vetplanttuin met verskillende teksture saamstel in goedgedreineerde grond en dan ’n kleurvolle kombinasie blomplante wat dieselfde waterbehoeftes het, maar met verskillende lengtes, bymekaar sit vir kleur  op jou stoep. Daarná is dié tuintjies uitgeloot en Roedeen Wahl, Annie Jooste en Brenda Neethling was die gelukkige ontvangers van hierdie waardevolle demonstrasie modelle, terwyl Susan Marais die enkel vetplant in ‘n erdepot gewen het.

 

Boomplantmaand het ook aandag gekry met die verwelkoming van Maryna Britz, ‘n nuwe VLV-lid wat van die Goodwood-tak oorgeplaas is. Twee Kusvaalbos(Brachyleana discolor)-boompies is aan me Britz, ‘n geesdriftige tuinier oorhandig. Saam met haar man is hulle die eerste intrekkers by die nuwe Fynbospark-ontwikkeling.

 

V.l.n.r. Ria Coetzee, Hermien van Zyl(saamroeper Landbou&Tuinbou), Kathleen Joubert en Estelle Bruwer met hulle vrolike lentehoede.

 

Essie Groenewald se hoed vol vars clivias

 

Corinne de Haas besig met haar demonstrasie

 

Annie Jooste was die gelukkige wenner van die vetplanttuintjie

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die vetplanttuintjie

 

 

 

 

Voorsitter Cecile Jonkheid en sekr. Ruanda de Clerk tussen al die blomme

 

 

V.l.n.r. voor sing Estelle Bruwer, Marianne de Wet, Louie Booysen en Lezette van Jaarsveld met Elsabé Smit en Etta Eksteen agter, lustig saam aan die lekker Afrikaanse lenteliedjies.

 

 

 

 

 

Nelie Ungerer (middel) en Marita Nolte (regs) van die gasvrougroep staan reg om die gaste te bedien. Lynette Loubser staan nader.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die pragtige orgidieë wat die naderende skou adverteer

het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Beskrywing van die Kusvaalbos-boompies wat oorhandig is.