Sirkelnaam: SWD

Taknaam: Heidelberg

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Driekie Uys

Datum: 17 Oktober 2018

 

Rika Cerff, ‘n verpleegsuster by Huis Zenobia Du Toit op Heidelberg, het ons lede, asook gaste, kom inlig oor die hantering en versorging van demensie-pasiënte.

Sy het gekonsentreer op 3 verskillende soorte demensie: Parkinsons, Alzheimers en vaskulêre demensie.

 

Demensie is ‘n tipe breinbeskadiging, hetsy of die dopamine opdroog of as gevolg van beroerte. Die siektetoestande kan nie omgekeer word nie, maar kan indien dit vroegtydig opgespoor word, vertraag word deur medikasie.

 

Demensie wat wel omgekeer kan word, is wanneer die persoon gedisorïenteerd is as gevolg van wanvoeding of dehidrasie of urine-infeksie.

 

‘n Persoon kan net geklassifiseer word met Parkinsons of Alzheimer indien die persoon vir ‘n breinskandering gegaan het.

 

Parkinsons of Alzheimer is nie oorerflik nie, vaskulêre demensie wel in ‘n mate as daar hoë bloeddruk in die familie is.

 

Wat moet naasbestaandes doen?

Sorg dat die testament en die finansies altyd in orde is voordat daar tekens van agteruitgang is. Dit neem die kommer weg van die pasiënt. Indien die pasiënt baie gespanne raak, veroorsaak dit depressie en die medikasie verhoog die valrisiko(pille veroorsaak styfheid van ledemate)

 

Hoe moet ons die persoon hanteer?

Met baie geduld.  Baie konflik ontstaan in families waar persoon tuis versorg word. As gevolg van woordeskat wat ingeperk word, raak die persoon aggressief. Hul gedrag verander en kan baie vloek(wat hul voorheen nooit gedoen het nie) Die siektetoestand breek die persoon se gedrag af.

 

Wanneer ‘n tuisversorger agterkom dat sy/hy woede-uitbarstings kry as gevolg van die versorging van so ‘n pasiënt of dat die tuisversorger moeg gaan slaap en moeg opstaan, gaan die rooi ligte aan dat die versorger nie meer die pasiënt kan versorg nie. Die versorger moet aanvaar dat die siektetoestand nie gaan verbeter nie.

 

Nadat ‘n pasiënt opgeneem word vir verdere versorging, neem dit omtrent ‘n maand om aan te pas.

 

Besoek die persoon en moenie wegbly nie. Lees uit die koerant artikels en gesels daaroor.

  • Die pasiënt vra soms uit na ‘n ouer en dan moet ‘n mens saampraat en byvoorbeeld vra of hy/sy kan onthou watter gereg die persoon gemaak het. Moenie die persoon teë gaan nie, dit ontstel die persoon as hy nie kan onthou nie. Hul verlang dikwels na hul kinders.
  • Versorging verg dat ‘n mens so ‘n persoon nie soos ‘n kind behandel nie. Gee hul ‘n keuse uit 2 stelle klere om aan te trek. Vir die vaskulêre demensie persoon kan die klere op ‘n stapel gepak word soos dit aangetrek moet word. Vir die Alzheimerpersoon moet alles gedoen word.
  • Bad of stort? Die gewoonte wat voorheen gevolg is, word gevolg. Tye wanneer dit gedoen word, ook soos voorheen. Daar moet dissipline en roetine wees wat die persoon ‘n veilige gevoel gee. Soms wil hul nie bad nie: hul kan nie diepte of hoogte skat nie en is dan bang om te bad. Gebruik ‘n lemmetjiegroen( dit asook wit, is die laaste kleure wat hul kan onderskei)badmatjie om in bad te sit. Gebruik 2 waslappe sodat versorger daar kan was wat persoon nie kan bykom of was nie.
  • Privaatheid is baie belangrik en moet gerespekteer word. Gooi die spieël toe as die persoon aantrek, hul dink daar is nog mense in die vertrek.
  • Moenie probeer om iemand se tande uit te haal nie. Hul kan jou baie seer byt wat veroorsaak dat jy in hospital beland. Speeksel is toksies.
  • Hul wil nie deur ‘n donker deurkosyn stap nie, hul dink dis ‘n afgrond. Donker kleure is moeilik vir hul om te onderskei. Gooi ‘n wit of lemmetjiegroen handdoek in die deur waaroor hul moet loop.
  • Voeding is belangrik: soms eet hul aanhoudend, soms net handeetgoed, soms eet hul swak. Dit moet gedurig ge-evalueer word.
  • Pynbeheer is moeilik, hul kan nie sê waar dit seer is nie. Moenie sommer medikasie gee nie. Probeer aandag aflei deur ‘n gesprek te voer.
  • Matige oefening word gedoen met lemmetjiegroen en wit gebreide balle om styfheid te verminder. Aktiwiteitsvoorskote kan hul ure besig hou.
  • Indien ‘n persoon weier om iets te doen, los dit, loop ‘n draai en kom weer later terug.

 

Behoefte van die inwoners: Respek, menswaardigheid, privaatheid en liefde.