Sirkel :  Cradock

Tak:  Hofmeyr

Portefeulje:  Kunste en Handvlyt

Beriggewer:  Teresa Opperman

Datum: 17 September 2018

 

Hofmeyr VLV het  tydens hul afgelope vergadering  geleer om Batik te doen.  Isabel Wilken wat deur haar skoondogter, Anneke Wilken, gevra is om die demonstrasie te doen, het aan die dames gewys hoe om Batikwerk te doen. Sy  maan deurentyd dat die kokende warm was maklik ontvlambaar is en dat daar altyd veiligheidsmaatreëls in plek moet wees.  Almal wat teenwoordig was, het die geleentheid gehad om te probeer om Batik te doen. Die proses bekend as Batik, is wanneer daar patrone met warm was op suiwer katoenmateriaal geteken word.  Sodra die was afgekoel en verhard het,  word die materiaal dan in ‘n kleurstof gedoop.  Daarna word dit droog en dan word die Batik afgekraak en laastens word die patroon dan in die materiaal ingestryk.

 

Tydens die vergadering het Hofmeyr VLV ook hul nuwe bestuur vir 2019 verkies.    Annerine van der Merwe is tot Voorsitter van Hofmeyr VLV-tak verkies.  As Vise-voorsitter sal Rika Pienaar diens doen.  Isabel Wilken is verkies tot die Leefstylportefeulje , wat beide naaldwerk en kookkuns behels.  Marguerite Hattingh bly aan as sameroeper van Opvoeding  en  Kultuur.  Estelle Kruger bly aan as Sekretaresse van die tak.  Thea Dorfling word verkies tot hulp-sekretaresse, terwyl Alicia Jansen voortaan as Tesourier sal optree.  Anneke Wilken bly aan as Sameroeper van Kunste en Handvlyt en Mariaan Schoeman is die nuutverkose sameroeper van Openbare Sake.  Nadia gaan voort in haar gesamentlike portefeuljes van beide Gesondheid en Landbou.

 

Vervolgens het die VLV–tak hul vergaderings vir 2018 afgesluit met die jaarlikse prysuitdeling waar deelnemers aan die kompetisies beloon word.

Anneke Wilken ontvang die toekenning vir kuns, Annerine van der Merwe het die meeste punte behaal vir kookkuns-inskrywings,  Isabel Wilken het die trofee vir Naaldwerk ontvang en Dadda de Jager vir Borduurwerk,  en hekelwerk.

 

Die wenner van die trofee vir VLV Vrou van die Jaar 2018, gaan hierdie jaar aan Rosalie Manley wat met haar 45 jaar as lid van Hofmeyr VLV nooit ‘n enkele geleentheid laat verbygaan  om foto’s van gebeurlikhede by die VLV vergaderings  te neem nie.  Sy het ook rekord gehou van elke berig wat geplaas was in nuusblaaie en in die VLV se mondstuk, die Huis en Haard.   Hierdie artikels het sy dan uitgeknip en in datum volgorde saam met die oorspronklike foto veilig bewaar in tientalle plastiek omslae.  Hierdie gebruik van haar het ‘n kosbare nalatenskap teweeggebring wat vir Hofmeyr VLV van groot geskiedkundige waarde is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Annerine van der Merwe sal as Voorsitter van Hofmeyr VLV dien vir die termyn wat ‘n aanvang neem Januarie 2019.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Trofeewenners wat beloon is vir hul deelname aan kompetisies,  tydens die pas afgelope VLV vergadering op Hofmeyr. Vlnr: Anneke Wilken (kuns), Annerine van der Merwe (kookkuns), Rosalie Manley (VLV Vrou van die Jaar 2018), Isabel Wilken (Naaldwerk),  Dadda de Jager (Borduurwerk en hekelwerk).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dadda de Jager (Uittredende Voorsitter van Hofmeyr VLV-tak) oorhandig die trofee aan Rosalie Manley as VLV Vrou van die Jaar 2018.