Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje:    Opvoeding en Kultuur, Leefstyl

Beriggewer:   Elize Locke

Datum:  28 Augustus 2018

 

Ons vier Vrouemaand

 

 

 

 

 

 

Gerda Muller het op 29 Julie haar 90ste verjaardag gevier.  VLV Voëlvlei het die geleentheid gehad om met ons Vrouemaandvergadering ons gelukwensing aan haar oor te dra.  Gerda is reeds 65 jaar lid van VLV Voëlvlei en woon nog gereeld die maandelikse byeenkomste by.  Voorwaar ‘n prestasie.

 

Gerda is op 29 Julie 1949  getroud met Alwyn (Patrysfontein) Muller.  Sy was ‘n uitmuntende gasvrou en Patrysfontein was die kuierplek op ‘n Sondag vir die dorpsmense wat vars lug gesoek het.  VLV dames het menige flatervrye resepte by haar gekry.  Sy was veral lief vir perdry en die voltooiing van blokraaisels.  Na Alwyn se afsterwe het sy haar op Vleesbaai gevestig waar sy elke oggend geswem en ver ente langs die strand gestap het.  Sy is tans woonagtig in Santos Haven, en stap nog gereeld.  Sy hou haar verder besig met kaartspeel, blokraaisels en die bou van legkaarte. Hoe kry ‘n vrou van 90 dit reg om niks ouer as 70 te lyk nie, kiertsregop te stap, altyd netjies geklee en statig te bly?  Gerda ken die resep!

 

 

 

 

 

 

Om Vrouemaand verder te vier het Alta Landman (lid van VLV Voëlvlei) wat saam met Adelle Harmse in Maart 2018 geskiedenis gemaak het deur, sover bekend, die eerste twee Mosselbaaiers te word om van Luklah in Nepal na Everest Base Camp te stap, haar wedervaringe kom deel.  Die skrale afstand van 130km het heelwat uitdagings gehad.  Die stap wat op 3 Maart begin het, het nege dae tot by die bestemming geduur.  Dit het twee klimatiseringsrusdae ingesluit.  Op hul “rusdae” het hul egter steeds geklim maar dan in die aand teruggekeer na ‘n laer hoogte om daar te slaap, want in die Himalayas is daar ‘n gesegde:  Climb high, sleep low.  Dit is om die stappers te help beskerm teen die gevreesde hoogtesiekte.  Die terugkom duur slegs drie dae.

 

Tandeborsel was ‘n geweldige operasie, omdat jy nie jou asem kan ophou nie, want daar is nie asem om op te hou nie!  Boonop vries die water in die krane en in die koppie voor jou bed, dus moet jy water in ‘n bottel warm hou in jou slaapsak.  Dit het gesorg vir lagbuie wat gelei het tot erge asemnood.

Alles van die reis was ‘n belewenis.  Die lughawe van Luklah is een van die 10 gevaarlikstes in die wêreld.  Vliegtuie land en styg op teen ‘n steil helling, so ‘n soort van ‘n rollercoaster-rit, sommer in die vlug ingebou.

Volgens Alta was dit ‘n geweldige emosionele ondervinding om die magtige Everest die eerste keer te aanskou. Die asemrowende pieke, baie van hulle hoër as 6 000 meter en dus in die sogenaamde death zone, maak dat die Kaapse berge nou baie klein lyk.

Daar is 95% Hindoes in Nepal en hul is die vriendelikste, behulpsaamste en hardwerkendste mense wat sy nog teëgekom het op haar reise.  Sy het die dames vermaak met haar humoristiese vertelling van hul toer gelei deur ‘n plaaslike toergids wat ‘n begrafnis van ‘n ou man ingesluit het. Die toergids het hul die heeltyd aangemoedig om van die rituele foto’s en videos te neem.  Nou nie iets wat ons sal dink om te doen nie.

Sy vertel van die vreemde kosse, meestal vegetariese geregte, wat hul geniet het.  Die gebedswiele wat die boediste rol elke keer wanneer hulle deur ‘n klippoort tussen die verskillende provinsies stap.  Die klein kinders, party so jonk as vier jaar, wat sonder toesig teen die steil kranse yakmis optel vir vuurmaak.  Die Sherpas wat met glimlagte swaar bagasie vir die klimmers dra.  Sy vertel dat die yakke en donkies wat voorraad en boumateriaal op hul rûe dra op die staproete verskillende klokke om hul nekke dra.  Dit is sodat jy weet wanneer om pad te gee! Verkieslik na die krans se kant toe!

 

Alta het reeds ‘n hele paar moeilike staproetes kafgedraf.  Die mees onlangste die Naukluft (wat as die moeilikste staptog in Afrika beskou word) in Namibië.  Sy is beslis ‘n ystervrou!

 

Linzetta Smit hou ‘n uitstalling van artikels gemaak met ou denims.

 

Veronica van Rooijen speel ‘n video van een van die areas gesing deur Nellie du Toit, wat op 29 Julie 2018 op die ouderdom van 89 oorlede is.  Sy deel interessante feite oor die formidabele soprano met ons.

 

Die byeenkoms is afgesluit deur ‘n groepie dogters van Bietouville wat eers ‘n rieldans gedoen het en daarna ‘n sangitem gelewer het.

 

Bietouville Dansgroepie

 

Verwerkte Denim

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Speel met Skulpe

 

Truksvyblaartuintjie