Sirkel:  Paarl

Tak: Slot van die Paarl

Portefeulje:  Kuns en Handvlyt

Beriggewer:  Annalise Loubser

Datum: 7 Augustus 2018

 

Tak se sewentigste verjaardag

 

Alice Swanepoel, Voorsitter, Marinda Rall, Sirkelpresident, Margaret de Villiers, spreker, Frouwien du Toit en Gonny du Plessis

 

Die dame is 70! Deesdae is jy ’n jongmens tot 60 en van 60 tot 80 is jy in jou middeljare. VLV Slot van die Paarl is dus in die middel van haar middeljare. Daar lê nog baie goed voor waarin sy haar kan bekwaam bv. tegnologie. Die VLV wil outydse handwerk soos batikwerk en hardangerwerk oordra aan die nageslag en vir die volledige reëls moet jy loer in die groen- en blouboeke. Bly by die riglyne (ook in jou geestelike groei), want dan sal jy die wedloop voltooi en die wenpaal bereik. Jy hardloop in die lewe nie alleen nie; op jou t-hemp is ’n kruis!

 

Dis dan ook by die VLV waar ons geluister het na die koor van die Oase-dienssentrum met Rokkies wil sy dra, Wanneer kom ons troudag, Daar onder in die vlei stap ’n mannetjie en Pollie ons gaan Paarl toe; die voete het gejeuk om ‘n paar danspassies uit te voer met die dame se verjaardag.

 

Koor van Oase Dienssentrum o.l.v. Hilze Malherbe

 

Margaret de Villiers, ’n interieurmeester, het ons uitgenooi om te bly belangstel en gedurig jou gemoed te vernuwe. Staan op en gryp die dag en besoek lekker plekke. Dit is kunsmaand in die Kaap en daar is die Irma Stern museum en Welgemeend onder andere wat besoek kan word. Welgemeend is by Hoërskool Jan van Riebeeck en daar is tans 67 kunstenaars se goed op uitstalling. Gaan kyk na Dylan Lewis se bronsbeeld wat op die oomblik Stellenbosch se strate verfraai.

 

Beleggingskuns of sosiale kuns, kommersiële kunsgallery wat kuns te koop aanbied of opvoedkundige uitstallings is begrippe wat lewe kry vir ons. Kunsgallerye het twee funksies nl. permanente uitstalling of om te koop. Die Rupert kunsgallery het beide hierdie funksies, ander het weer net een van die funksies. Daar is min uitstappies wat jy so geniet as die voorafskou van ’n kunsveiling; koop met die oë. Koop een van die katalogusse, want dit is amper soos ’n naslaanwerk en jy sal dit nooit weggee nie. As jy ’n beleggingskunswerk koop, moenie die oorspronklike raam vervang nie. Museumglas is verkieslik bo ander glas by die raam van skilderye.

 

Een van die punte wat sy aanraak, is oor instansies wat kunsbelangstelling en –kennis bevorder soos die Zeitz Mocaa (met vensters soos oë van ’n insek), Norval Foundation Art Galery in Tokay en die Huberte Rupert Museum met sy kuns van 1940 tot 1970.

 

Hierdie sewentigjarige dame gaan vir seker ’n paar van die historiese huise se kuns ook besoek nl. Rust en Vrede museum, Die Kasteel  en die Ellerman House.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Uitstalling van lede se handwerk