Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 10/10/18

 

Oktobermaand is nie net Leipoldt se mooiste, mooiste maand nie. Dit is ook Acqua se verjaarsdagmaand. 34 jaar van verryking en opheffing, nie net ten opsigte van die lede nie, maar ook die gemeenskap, is met groot styl en swier gevier.

 

Die tak is gelykertyd al jare gevestig en tog steeds bloedjonk! Gelukkig het die Kwa-Kwa’s geen skaamte oor ouderdom nie. Inteendeel. Elke bestaansjaar word met trots aan die groot klok gehang. Acqua is deel van ‘n lang en trotse bestaanstradisie. Die Vereniging, VLVK, vier volgende jaar  haar 90ste bestaansjaar. Die geografiese area, waarvan Acqua een van veertien takke is, bekend as Sirkel Middelland, is volgende jaar ‘n gawe 85 jaar oud. Nee wat, die VLV en haar lede het meer as genoeg rede om kop omhoog ‘n nuwe bestaansjaar te vier. Daar is mos darem veel te sê vir langslewendheid.

 

    

 

In solidariteit met al die VLV-vroue wat ons in die beginjare van VLVK vooruitgegaan het, is daar hoed gedra. Oud of nuut, geveer of geblom, dit moes net ‘n flambojante kopskepping wees. Acqua is mos darem nie ‘n tak wat ongemerk deur die lewe gaan nie. Die hooftooisels het vir groot pret gesorg.

 

  

 

  

 

Dit was nou behoorlik ‘n aand van kapperjolle. Die atmosfeer was uitbundig en die tafeldekor vrolik. Daar is gesels, lekker geëet en baie gelag. Kristin Steyn het haar pragtige sangtalent met algar gedeel. Sy het gesorg vir ‘n musikale reis deur die drie dekades + wat Acqua al in die lewe is.

 

Lynette Martin, stigterslid van die tak, President van Sirkel Middelland en ook Visepresident van VLVK, is geleentheid gegee om te vertel hoe die tak ontstaan het. Daar was 7 dames uit Blouwaterbaai wat in1984 VLV-vergaderings in Somerstrand bygewoon het. Hulle het die behoefte raakgesien om ‘n tak nader aan die huis (Blouwaterbaai) te hê en dit is hoe Acqua haar beslag gekry het.

 

  

 

Die eerste takvergadering het op 12 Oktober 1984 plaasgevind. Aqua is die Latyns vir water en Acqua in Italiaans is‘n groen-blou kleur. Die naam en kleur verteenwoordig die blou van die lug en die groen-blou kleur van die see en die Swartkopsrivier. Die tak is in November 1984 amptelik en op luisterryke wyse deur die burgemeestersvrou, Iris Krige, geopen. Rona Ferreira het die vaandel ontwerp. Alida Smalberger, 1ste Voorsitter, en Caroline Rademeyer het die vaandel gemaak en aan die nuwe tak geskenk.

 

Die tak is vandag ‘n VLV-vriendekring met lede vanuit die hele Nelson Mandela Metropool. Lede kom van dwarsoor die stad, uit Despatch en ook Uitenhage. Acqua-tak, die grootste tak in VLVK, met meer as 130 lede, vergader elke 2de Woensdagaand van ‘n maand by die PE Gholfklub. Daar word saam geëet, lekker gekuier en met die hulp van kundige sprekers en demonstrateurs die kennisgrense verskuif.

 

Acqua-tak se 34ste verjaarsdag was, soos alles wat die tak en haar lede doen, aanpak, in plek stel, reël en beleef, ‘n aand van héérlike en vrolike samesyn. Ons klink ‘n glasie op nóg 34 jaar en nóg, ten minste, 130 nuwe lede.