Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Studierigting: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 13 Junie 2018

 

Kunste en Handvlyt was die verantwoordelike studierigting vir ‘n vrolike, kunstige en vlytige vergadering. Sameroeper Hannelie Low het gesorg dat dit ‘n genoeglike aand vol kreatiwiteit was.

 

Lede was sommer in die nuusbrief al aangeraai om hulle vingers botter te smeer, want ‘n mens kan nooit sê waartoe jy in staat is met die regte leiding nie. En dit is net hoe dit was. Onder Hannelie se vaardige hande het ‘n paar lappies materiaal pragtige blomme geword. Blomme wat as borsspeld, dekorasie of middelplasing gebruik kan word.

 

Elkeen het ‘n pakkie gekry met al die benodigdhede en wat na niks gelyk het nie, het met Hannelie se leiding iets mooi geword. Sy het stap vir stap verduidelik hoe daar te werk gegaan moet word. Eers is daar gerafel, toe’s die lappies net so ‘n knapsie skuins van opmekaar oormekaar gestapel. Daar’s ‘n knopie ingesit, dit is met ‘n rekkie vasgemaak en siedaar. Dit was ‘n blom.

 

 

Dit was ‘n luide vergadering. Dis nie te sê dat as die hande besig is, die monde toe sal wees nie! Inteendeel. Dan’s die gesels éérs lekker.

 

Hannelie het self die middelplasings en funksie-gunsies gemaak. By VLV hoef ons selde buite die ledelys te soek vir kundigheid. Kreatiewe blikke met lap, wat lyk soos verf wat uitloop, het die tafels versier. ‘n Palet-koekie, kompleet met verskillende kleure “verf”, was die funksie-gunsie.

 

    

 

Acqua staan op die vooraand van een van die jaar se gróót fondsinsamelings. Die Jaffelbak was ook ‘n grote, maar die tak se Kersfeesmark, Krismis in Julie, beloof om weer ‘n duzi van ‘n insameling te wees. Daar is 25 stalletjies wat nie net dekor, klere en kuns te koop sal bied nie, maar ook juweliersware en tuisgebak. Die Kersmark vind op Vrydag, 6 Julie en ook Saterdag, 7 Julie, in die Walmer Stadsaal, Port Elizabeth, plaas. Besoekers sal nie net na hartelus inkopies kan doen nie, hulle sal ook kan weglê aan heerlike eetgoed by die Teetuin. Wie’t gesê Vader Kersfees kom net eenkeer ‘n jaar kuier?

 

Hierdie jaar staan al in sy helfte, en daar’s al vele vergaderings en projekte met groot sukses afgehandel. Daar kan net groter hoogtes bereik word in 2018 se tweede helfte, want aan Acqua-entoesiasme en werksywer is daar geen keer nie!