Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 13 Junie 2018

 

Aberdeen VLV se laaste vergadering voor die Wintervakansie en jagseisoen in alle erns begin, het op Leefstyl gefokus. Leefstyl Sameroeper Carina Esterhuizen open met ‘n skrifgedeelte uit Spreuke wat op vriendelikheid fokus. Dit kos ons niks om vriendelik teenoor ander te wees nie – dis ‘n ingesteldheid wat mens kies en is ook ‘n vrug van die Heilige Gees.

 

Esterhuizen verwelkom plaaslike boer en kaasmaker Sari van der Merwe. Van der Merwe vertel dat die kaasmakery begin het by haar strewe om selfonderhoudend op die plaas te wees. Vandag word haar kase ook in winkels bemark. Sy verduidelik die proses van kaasmaak vanaf die sterilisasie van die bok se spene voordat dit gemelk kan word tot by die voltooide kaas wat verpak word.  Dit is belangrik dat die melk vining verkoel word voordat daarmee gewerk kan word.  Daar is vier hoofprodukte wat van der Merwe maak, naamlik jogurt (gegeur en ongegeur), sagte kase (verskillende geure), fetakaas en harde kaas (gouda).  Die produkte word bemark onder die handelsmerk Sari’s.

 

Deesdae brei van der Merwe ook serpe, mussies en handskoene met bokhaarwol en bemark dit by plaaslike stalletjies in die omgewing.  Die praatjie word afgesluit met ‘n heerlike kaasproe en uitstalling waar al Sari’s se produkte ook te koop is.

 

Sameroeper Carina Esterhuizen gee vir elke lid ‘n handgeskrewe resep, ‘n bottel van haar eie ingelegde olywe en ‘n tuisgemaakte skottelgoedwasser wasmiddel wat ook as lugverfrisser gebruik kan word.

 

Die vergadering bespreek ook die beplande Winter Vrouedag wat op 1 Augustus 2018 in Aberdeen aangebied sal word.  Kaartjies sal by lede te koop wees teen R100 en die sprekers is Wilma le Roux van Let Love Clothing met ‘n motiveringspraatjie en modeparade, asook ‘n tuinboupraatjie deur Starke Ayres.

 

Die vergadering word afgesluit met ‘n groot bederf deur Adelle de Jager en Karen van Rensburg – ‘n 3-gang ete bestaande uit botterskorsiesop, hoenderkerrie en kaaskoek.  Die gelukkige trekking van die dag word gewen deur Lize de Jager. Karen van Rensburg word gelukgewens met haar verjaarsdag en Judith Dardis word as nuwe lid verwelkom. Daar was ook ‘n insameling van kosprodukte vir die plaaslike Bambino Sopkombuis.

 

Vlnr Carina Esterhuizen (Sameroeper Leefstyl) saam met kaasmaker Sari van der Merwe.

 

Keurig gedekte tafel van Adelle de Jager en Karen van Rensburg met heerlike botterskorsiesop en brood.