Sirkel: Paarl

Tak: Slot van die Paarl

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 5 Junie 2018

 

 

 Lisa Adlam, Salome du Toit, Alice Swanepoel (voorsitter), Aletta Keyser, Erika Wynjeterp

 

Op ’n koue oggend, lekker warm aangetrek, arriveer die dames op die vergadering om bederf te word met ’n vol program! Dit is ook wêreldomgewingsdag en ons hoor dat ons minder plastiek moet gebruik en dit wat rondlê, moet optel.

 

Nataniël se spitvondige antwoorde op lesers se etiketvrae vermaak vele; mense dink as jy etiket bestudeer, leef jy soos ’n non, aldus Nataniël.

 

Die armoedeprojekte, sanitêre doekies vir dogters en gebreide handskoene vir skoolkinders teen die winterkoue, het baie ondersteuning gekry. Lisa Adlam vertel van die broekies wat te koop is vir skooldogters.  Daar is baie meisies wat verhinder word om skool toe te gaan, omdat  hul nie die doekies kan bekostig nie. Project Dignity en Subz Pty is organisasies wat saamwerk om broekies te maak met doekies wat vasplak gedurende menstruasietyd.

 

Sue Barns, ’n klereontwerper, se dogters het haar genader om sanitêredoekies te skenk aan die minderbevoorregtes, aangesien daar so ‘n groot behoefte is. Sy het toe ‘n stappie verder gegaan en die broekie met ingeboude doekie ontwerp.  Die doekies is wasbaar en kan herhaaldelik gebruik word.  Die pakkies kan bestel word deur die internet subzpads.co.za.  Dit is ook echo-vriendelik en bevat geen chemikalieë nie. Die gewildste pakket is 3 broekies + 9 doekies @ R242,00.  Dit hou tot 5 jaar. Daar is ook verskillende groottes en is baie gewild onder die skoolkinders.

 

 

 

 

 

 

 

 

Handskoene vir armoedeprojek

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

By Erika Wynjeterp hoor ons meer oor dollaslapwerk, (crazy patchwork).  Die geskiedenis oor die ontstaan van dollaslapwerk lui dat dit uit die Victoriaanse tyd kom toe die arm mense enige stukkie materiaal gebruik het om klere en beddegoed te maak, want geld was bitter skaars. Laat 1880 het dit weer mode geword onder die rykmense wat sy, brokaat, ens gebruik het om beddegoed te maak. Hulle was baie lief vir die Japanese goed en het ook alles in oormaat gedoen.  Later jare toe daar weer ‘n oplewing was, was dit minder flambojant.  Tussen 1920 en 1930 was daar weer ’n oplewing en sedertdien is daar gereelde oplewings.

 

Begin deur lappies (die eerste is gewoonlik ’n driehoek of vyfhoek) op ‘n basis van ongebleikte katoen met masjien vas te stik. Hierna word elke naat gekamoefleer met borduurwerk; dit help as jy ’n raam gebruik om styf te trek. Jy kan enige tipe steke gebruik op die werk. Hul werk eers alles klaar in die raam en sit dan agterna krale by van ’n hoek af. Vroeër het hul geglo dat deur byvoorbeeld ‘n spinnekoppie op die werk aan te bring, bring geluk. Nog ’n paar tipes motiewe is ’n waaier (Japannese invloed), voëls, bome, diere (veral plaasdiere), insekte (naaldekokers, bye, liewenheersbesies).  Haar voorbeelde het ook bygedra daartoe dat ons dit mooi verstaan het. Sy bied gereeld werkswinkels aan en almal is welkom.

 

Dollaswerk/Crazy patchwork