Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Berriggewer: Natania Schmidt
Datum: 25 & 26 Mei 2018

 

Sedert 2010 is die GROOT jaffelbak ‘n instelling op die Acqua-kalender. ‘n Vrolike manier om fondse in te samel, want die Kwa-Kwa’s ken van werk met ‘n lied in die hart.

 

As Acqua nou ‘n woordjie in die Bybelskrywers se ore kon fluister, was die Acqua-jaffelbak verseker ook aangeteken. Dis nou natuurlik met die grootste respekte gesê. Die skare by Tabgha sou met meer as brood en vis gevoed kon word, want maalvleis en brood in Acqua-hande ken net geen einde nie.

 

Nege jaar na ‘n nederige begin van 706 bestellings en ‘n wins van R8000 het Acqua in 2018 weereens alle verwagtinge oortref. Daar was 1 594 bestelings, 150 jaffels is gebak om geskenk te word aan honger skoolkinders (deel van Acqua se Goedheid & Guns projek) en 1 645 het op die ou end huis gekry. WANT die ongelooflike getal van 1 795 jaffels is gebak. Die pragtige bedrag van R18 000 is ingesamel en het die tak se spaarvark nog ‘n groter boepens as die van ‘n jaffel gegee.

 

70 kg maalvleis (voorberei op Vrydag) en 200 brode is in ‘n omesientjie in vuurwarm, geurige jaffels omtower. Bestellings (waarvan die grootste ‘n bestelling vir 100 jaffels was) is vooraf geneem. Daar was klaarblyklik groot teleurstelling onder die smulpape, want nét een jaffel was vir almal wat ‘n Acqua-jaffel geproe het, net nie genoeg nie. Hulle het gereken die bestellings moes nog méér gewees het.

 

Die jaffelpoging het soos elke vorige jaar op geoliede wiele geloop. Die “boustasie” het gesorg dat die broodjies voorberei word om by die “bakstasie” in die jaffelysters gelaai te word, sodat die “pakstasie” aan bestellings kon voldoen. Daar was gelag en gesels, gebak en gepak, drinkgoed aangedra deur die “verversingskomitee” en geld getel deur die “finansspan”. Die Kwa-Kwa’s is ‘n gedugte span!

 

Acqua is baie, baie dankbaar vir elke lid wat gehelp het met die voorbereiding. Ook diegene wat gebou, gebak en gepak, bestellings geplaas en bestanddele en/of kontant vir aankope geskenk het. SASKO het ‘n donasie van 150 brode gegee en Continental Butchery& Deli, so ook Market Meats, het ruim maalvleisdonasies gegee. Acqua loof hulle vrygewigheid.

 

As ons jou nou lus gemaak het vir ‘n jaffel, beter jy sommer nou al jou bestelling plaas vir 2019. 2000 jaffels klink miskien vir jou baie, maar in ware Acqua-tradisie is dit al so goed as uitverkoop!