Sirkel: Kaapstad

Tak: Strand

Beriggewer: Erna de Waal

Datum: 22 Mei 2018

 

Strand se VLV Tak het op 22 Mei ‘n sprankelende oggendtee aangebied en 200 gaste is begroet  deur ‘n see van blou: in lekkers, truffels , meringues, versierde blou bottels  en tafeldoeke. André se bekendste lied is BLOU en daarom was hierdie kleur aan die orde van die dag.

 

Die program is begin deur AVBOB, borg van die kunstenaars, met inligting oor verskeie produkte en dienste deur hulle aangebied.  Hulle het dan ook die kunstenaars voorgestel, waarna ons  getrakteer is met sang deur André Swiegers, pragtig ondersteun op die kitaar deur sy seun, Emile.  Met André se uitstekende sang, humor en  pittige vertellings het die oggend verbygevlieg. Erna Krüger het met haar voordrag, deur haarself geskryf, die oggend verder “blou” ingekleur met  die beskrywing van blou in die najaar vanaf die oggend totdat die skemer oor Mpumalanga daal.

 

Die Afrikaanse vertaling van Nkosi Sekelel i’Afrika wat geskryf is deur oudregter H.A. Fagan in 1946, is voorgelees deur die Voorsitter, Leta du Preez, waarna die Volkslied uit volle bors gesing is. Een van die hoofstrate in die Strand is vernoem na oudregter H.A. Fagan.

 

By hierdie geleentheid het ‘n pragtige uitstalling van verskeie vorme van naaldwerk, veral borduurwerk, gemaak deur Marie Bester en Netta Pieterse van Strand Tak, die oë laat rek.

 

Ons het ook hulde gebring aan twee baie bedrewe kunsnaaldwerk “prima donnas” wat ons onlangs ontval het: Netta Pieterse en Helena Bresler. Beide was vir dekades lede van die VLV. Hulle pragtige handewerk is onvergeetlik en sal vir lank onthou word.

 

Rienie Coetzee van AVBOB het ter afsluiting beklemtoon dat niemand stokou begrafnisboekies moet weggooi nie want sekere  gratis dienste word steeds gedek as persone hul ouers se boekies bewaar het.

 

Hierdie besondere geleentheid is afgesluit met heerlike verversings, warm tee en gesellige samesyn.

 

 

 

 

André Swiegers besig om die lede te vermaak met ‘n verskeidenheid van liedjies, hoofsaaklik deur homself geskryf.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Emile, André se seun, se vinnige, vlytige vingers het baie bygedra tot die afgeronde musikale reis.

 

 

 

 

 

 

 

 

Emile Swiegers, Erna Krüger en André Swiegers, gaskunstenaars wat die dag mooi ingekleur het.

 

 

 

 

 

 

 

André Swiegers, Leta du Preez (Voorsitter Strand Tak) en Emile Swiegers.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

André Swiegers het ‘n kosbare liedjie oor “Bessie” gekomponeer en gesing – en Bessie Uys was die enigste naamgenoot in die gehoor!

 

 

 

 

 

 

 

Marie Bester, borduurster by uitnemendheid, spog met haar kunswerke.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Netta Pieterse, wie se vingers kunswerke met die naald geskep het. Sy het ons onlangs ontval, maar haar Naaldwerkkuns sal ons altyd aan haar herinner.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die fyn en kunstige naaldwerk van Netta Pieterse.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 Annette Stander, SJB Keyser en Hester Gericke gooi vir oulaas ‘n ogie oor die teetafels.

 

 

 Francoisnette van Zyl en Isabel du Plooy sorg vir die laaste afronding.