Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Studierigting: Openbare Sake

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 9 Mei 2018

 

 

Die klomp vakansiedae maak die dagboek en doen-lysies ‘n bietjie deurmekaar, maar ai, dit sit dan tog so lekker aan die lyf. Net soos die maandelikse VLV-byeenkoms. Vakansiedae is sag op die senuwees en VLV is noodsaaklik vir die gees. Meimaand se Acqua-samesyn was weer ‘n fees van lag en gesels. ‘n Fees van kennis en bemagtiging.

 

Ons leef in ‘n tyd waarin verantwoordelike burgerskap meer as net ‘n onderafdeling in die Openbare Sake studierigting is. Sowat 5900 misdade word daagliks landwyd by die SAP aangemeld. SA se misdaadstatistiek is skokkend en kommerwekkend, met ‘n toename in voorvalle oor feitlik die hele spektrum van misdaad. Die onnoembare gebeur nie meer net met ande r mense nie. Nee, ons is in die spervuur van misdadigers met geen respek vir jou en jou besittings nie. Dit is uiters noodsaaklik om onsself te bemagtig vir wanneer die ondenkbare gebeur. Jy hoef nie ‘n swart gordel in gevegskuns te hê nie, maar ontkenning kan jou, jou lewe kos.

 

 

Bernadette Nel-Naude, Bestuurder van Gemeenskapsontwikkeling by Atlas Sekuriteit en Ambassadeur van Vroue Bemagtiging, het die Acqua-dames vasgenael en tjoepstil gehou met haar veiligheidswenke.

 

Ons, veral as vroue, het nodig om bewus te wees van ons omgewing en wat in daardie omgewing aan’t gebeur is. Dit is ons eerste lyn van verdediging. As iets jou onrustig maak, moet jy jou instink vertrou. Jou 6de sintuig is baie, baie selde verkeerd. As jy iets sien wat nie reg is nie, moet jy iets sê. Rapporteer verdagte optrede. Eerder paranoïes, as onveilig.

 

Parkeerareas is gevaarlik. Probeer so naby moontlik aan die ingang parkeer. Parkeer in ‘n goed verligte area. Moet nooit jou motor se alarm de-aktiveer voor jy nie by jou motor, gereed om in te klim en dadelik die deure te sluit, is nie. Indien jy jou motor van ‘n afstand af oopsluit, gee dit ‘n misdadiger die kans om in jou motor in te glip, sonder dat jy dit weet.

 

Dit is noodsaaklik dat jy ‘n familielid of vriend(in) inlig waarheen jy oppad is, waar jy gaan wees en wanneer jy beplan om terug te wees. Wie sal andersins weet dat jy dalk gekaap of ontvoer is, aangeval is of in moeilikheid beland het. Waar word daar begin om na jou te soek as niemand van jou doen en late weet nie?

 

Bly in ‘n groep as jy, veral laat in die aand, tussen ‘n gebou en jou motor moet beweeg. Jy’s veiliger in ‘n groep, as alleen. Wees selfgeldend wanneer jy rondbeweeg. Onsekere bewegings lok ongewenste aandag. Vermy kortpaaie en bly op goed-verligte voetgangerpaadjies. Indien jy ongewenste en onwelkome aandag van iemand kry, moet jy so ‘n persoon met groot fermheid ontmoedig om naby aan jou te kom. Eerder onvriendelik as onveilig.

 

Suid-Afrika staan bekend as die “rape capital of the world”. Daar bestaan baie mites oor verkragting, soos dat die verkragter ‘n persoon is wie jy nie ken nie. Ongelukkig is die verkragter meestal ‘n persoon wie aan jou bekend is. Volgens statistiek gebeur die meeste verkragtings tussen mense van dieselfde ras. En in jou eie huis. Verkragting gaan oor mag, baie meer as oor seks. Die belangrikste om te onthou t.o.v. verkragting, is dat dit NOOIT jou skuld is nie. Dit is 100% die verkragter se skuld. Dit is uiters noodsaaklik om jou risiko vir so ‘n geweldadige misdaad tot die absolute minimum te beperk. Wees versigtig watse inligting van jouself, jy op sosiale media openbaar. Rowers en verkragters het ook toegang tot sosiale media.

 

Moenie jou huis binnegaan, as jy vermoed dat jy dopgehou word nie. Gaan eerder na jou bure of ontbied hulp. Hou altyd jou sleutels reg, sodat jy die deur dadelik kan oop- en weer kan toesluit. Die meeste aanvalle gebeur wanneer jy by jou werksplek of huis arriveer, want dan laat jy jou skanse sak, omdat jy veilig voel in ‘n bekende omgewing.

 

Wanneer ‘n indringer jou in jou huis konfronteer, moet jy maak asof jy nie alleen is nie. Roep na iemand, al is jy alleen. Probeer jou bes om van die aanvaller weg te kom en skree so hard jy kan om aandag te trek. Onthou dat die oë, ore, skrotum, lies en penis baie gevoelig is. Byt en skop so hard jy kan. MAAR,  jy moet eerder passief weerstand bied, indien die aanvaller ‘n vuurwapen het, want konfrontasie van enige aard kan maak dat hy jou net meer sal skaad.

 

Bemagtig jouself met meer as net inligting, want daar is geen versekering dat jy teenwoordigheid van gees sal behou wanneer jy in vrees verkeer nie. Woon ‘n selfverdedigingskursus by en wees ten alle tye paraat.

 

Onthou dat ‘n veiligheidshek en ‘n alarm waardeloos is, as dit nie gesluit en geaktiveer is nie.

 

Bernadette Nel-Naude is ‘n absolute fontein van veiligheidskennis. Sy het die Acqua-dames met waardevolle veiligheidswenke bemagtig.

 

Dit was egter nie net ‘n ernstige aand nie. Annelie Botes het die allermooiste foto’s van haar en die Gryse se narrow boat-ervaring op die Engelse kanale gewys. In tipiese Annelie-styl het sy vertel van hulle wedervaringe in ‘n pragtige, veilige, maar ook bitter koue Engeland. Hulle boot het op ‘n kol vasgevries en om uit die ys los te gekom het was ‘n traumatiese ondervinding vir die Kammanasiekind. Ewentwel. Hulle is veilig terug na hulle eie Engelse sabatsreis. Acqua was bevoorreg om te kon deel in hulle reis en die weergalose skoonheid van die Engelse platteland.

 

Na afloop van die aand se gesellige samesyn is die parkeerterrein in groepe, motorsleutels in die hand, aangedurf.

 

Die Bestuur het weer, soos gewoonlik, gesorg dat die tafels ‘n lus vir die oog was. Elkeen van die nagenoeg 100 gaste het ‘n heerlike lamington as funksie-gunsie ontvang.