Sirkel: Weskus
Tak: Moorreesburg
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Datum: 2 Mei 2018
Beriggewer: Martelize Britz
Die lede is bederf met 2 demonstrasies hierdie keer. Eerstens was dit die beurt van Suretha Fourie. Sy het ‘n demonstrasie gedoen oor die ou kunsvorm, batik. Aangesien daar ‘n batik skinkbordlappie op die konferensielys is, was dit baie welkom.
Sy het gesê dat jy self jou ontwerp kan teken, of andersins ‘n stensil kan gebruik of selfs ‘n inkleurboek kan gebruik as inspirasie. Gewone wit kerswas is ook, volgens haar, heeltemal in orde.
Jy benodig verder regte stensilgom wanneer jy ‘n stensil gebruik, moenie enige ander gom probeer nie.
Sy het sommer gou-gou kerswas gesmelt en die lappies in koue kleurstof gedompel. En siedaar, pragtige skinkbordlappies.
Die tweede demonstrasie was deur Denise Bester wat die geheime van botterversiering vir koeke met die lede gedeel het.
Die weer speel ‘n belangrike rol. Botterversiering werk nie in hitte nie. Verder gebruik mens altyd die 1:2 verhouding vir die hoeveelheid botter/margarien en versiersuiker. Sif ook die versiersuiker twee maal. Sy self verkies wit margarien bo botter wat ‘n geel ondertoon gee. Kleur ook met gelkleursel, nie vloeistof.
Sy maak ‘n kleefplastiek “worsie”vir die spuitsak om ‘n gemors te vermy. Sy het ook variasies gewys, bv. ‘n gel strepie in die middel van die versiersel voor dit toegedraai word in die kleefplastiek. Dit maak ‘n roos met ‘n ander kleur randjie.
Mens kry silikon vorms waarin jy die versiersel skep, plaas dan in vrieskas. Laastens het sy vertel van die sg. “Russian nozzles” wat ‘n volledige motief reeds het.
Die lede het baie geleer by hierdie vergadering en sien nou sommer kans vir nuwe tegnieke.
Moorreesburg Tak het ook ‘n projek begin om voorskote met die takwapen en die lid se naam op te maak. Hierdie voorskote is werklik pragtig!
Denise Bester wys haar pragtig versierde koek.
Suretha Fourie besig met die Batikdemonstrasie
Almine du Plessis en Annemie Bester met hul voorskote
Leave A Comment