Sirkel: Tygerberg

Geleentheid: Konferensie

Beriggewer: Antoinette le Roux

Datum: 15 Maart 2018

 

Ons Dankie-persoon vanjaar is Elizabeth Cloete. Ons bedank haar vir die beeld wat sy van VLV uitgedra het.

 

Die tema “Môre begin Vandag” is behendig deur die sprekers toegepas.

 

Eerste aan die woord was Rochelle Smith.   Sy is die bemarker van die Paarlskool wat vanjaar hul 40ste bestaansjaar vier. Sy is self in ‘n rolstoel sedert sy in ‘n skietvoorval verlam is.  Albei haar ouers is in die voorval dood.   Sy het toe by haar ouma en oupa gaan woon. Op 12-jarige ouderdom is sy na die Paarlskool – sy kon skaars regop sit.   Elke leerling kry egter  net die beste behandeling en in gr 9  toe sy 18 jaar oud is, het sy die skool verlaat.   Sy is ‘n gemotiveerde person wat haar nie deur haar gestremdheid laat kortwiek nie.   Sy het al verskeie toekennings ontvang, o.a.  6 medaljes vir spiesgooi en gewigstoot vir WP.

 

Die volgende spreker was Merizle Mitrovich wat in 1995 aan die Grangerbaai Hotelskool gegradueer het.   Daarna het sy in Hyde Park, New York verder gestudeer.   Sy glo daaraan om voortdurend te studeer en het uitgebreide kennis van die bedryf.   Sy is ‘n gerekende sjef wat verantwoordelik is vir die nasien en verbetering van standaarde in opleiding wêreldwyd.   In 2017 het sy ‘n City and Guilds Medalje vir Uitnemendheid ontvang en sy is tans die fakulteitshoof van die instituut in New York.   Merizle is net so briljant as spreker as koskundige.

 

Laastens het Johan Wilken ons vertel van sy lewenslange stryd met genetiese hoë cholesterol.   Na maande se navorsing het hy die produk CholesterolEase ontwikkel en op die mark geplaas.

 

Vanjaar is ons baie trots op die uiters hoë standaard in die handwerk-afdeling.  Pragtige brei-, hekel-  en borduurwerk is uitgestal.   Die drie inskrywings in kloskantwerk was ons bewondering waardig.

 

Ons sien uit na Kongres wat vanjaar op Goudini plaasvind en sal sterk meeding met die bestes uit ander Sirkels.

 

Ita van der Merwe, Sirkelpresident, oorhandig die Oorkonde aan Elizabeth Cloete. Ita het ook die trofee vir die hoogste punt in preservering gekry

 

 Wenda Preuss, Voorsitter van Goodwood-tak, met die trofee vir die tak se algehele  uitnemendheid.

 

 Maretha Bester, Voorsitter van Parow, se tak was die algehele wenners

 

 

 

 

 

 

 

Hester Geringer – Beste op Skou vir borduurwerk

 

 

 

 

 

 

 

 

 Elfrieda Auret –    Algehele wenner in Kunste