Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 14 Maart 2018

 

Die stedelinge en ook ‘n paar boervrouens (nie boere nie, maar VROUE van boere) wat aan Acqua-tak behoort, is geen vreemdelinge in die poorte van plant en plaagbeheer nie. Nog minder is hulle onbekend met droogte, waterskaarste en waterbesparing. Ongeag hoeveel jy weet of jy dink jy weet, is daar altyd nuwe kennis wat ingewin kan word. Omdat die sprekers wat vir VLV-vergaderings genooi word kundiges op hul onderskeie gebiede is, is jy verseker dat jy ten minste een ding gaan hoor of gaan leer wat jy nie vantevore geweet het nie.

 

Jean Blume van Ever-Grow, was die kundige wat tydens die Landbou & Tuinbou portefeuljevergadering sy kennis met die lede en gaste gedeel het.

 

Sy kennis is behoorlik getoets, maar elke vraag uit die gehoor is in die besonder geantwoord. Dit het geblyk dat die dames groot vertwyfeling het oor watter insek, wurm of slak dit nou eintlik is wat so lekker onder die plante wei. Ons sien net die gaar-gevrete plante en die skuldiges is nêrens te vinde nie. Jean het verduidelik dat ‘n ruspe die blaar van buite af binne toe vreet. Die kalant los net ‘n paar hoofare oor. ‘n Slak los weer ‘n “sif”, want hy vreet tussen die blaarare. Die besie vreet op verskllende plekke in die blaar en los gate van verskillende grootes.

 

Hy raai die dames aan om gifstowwe met groot omsigtigheid te hanteer en om altyd by die aanbevole dosis op die verpakking te hou. Plaag- en onkruiddoders kan baie skadelik wees vir mens en dier. Sommige gifstowwe is selfs skadelik vir die tuin-vriendelike insekte. Moenie eet, drink of rook wanneer jy gif spuit of toedien nie. Dit is aan te bevole dat jy handskoene dra wanneer jy met sulke gifstowwe werk. Plaag- en onkruiddoders moet verkieslik vroeg in die oggend of laatmiddag op ‘n droë, windstil dag gespuit word.

 

Die Nelson Mandela Metro gaan ook gebuk onder felle waterskaarste. Dit is dus baie belangrik om waterwys met jou tuin om te gaan. Jean vertel van die noodsaaklikheid van ‘n deklaag om te keer dat grond hard word wanneer dit water kry. ‘n Organiese deklaag sal verdamping keer en help dat water die grond beter binnedring. Houtsnippers of droë gras is baie goed as deklaag, aangesien dit mettertyd ontbind en kompos word. ‘n Deklaag verlaag verdamping van die grondoppervlak en bespaar soveel as 25-50% water.

 

Ever-Grow het die dames se aandagtigheid met ‘n verskeidenheid pryse beloon. Die Kwa-Kwa’s het egter nie net met tuinvurkies en kompos huistoe gegaan nie, maar was toegerus met baie meer kennis as waarmee hulle arriveer het.

 

Sameroeper, Gail Snyman, het gesorg vir mooi servette en ‘n spoorsalie as funksie-gunsie.