Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 14 Maart 2018
Aberdeen VLV doen Mosaïekwerk en stal wen-bekers uit
Die portefeulje vir Aberdeen VLV se Maart 2018 vergadering is Kunste en Handvlyt. Annalie Lategan, Sameroeper Kunste en Handvlyt, open die vergadering met die gelykenis van die muntstukke in Matteus. Soos die muntstukke het ons talente van God ontvang wat ons moet gebruik en nie moet wegsteek nie. Ons moet gedurig groei en nie staties bly nie.
Lategan stel daarna Aberdeen se eie wêreldbekende kunstenaar, Marguerite Beneke, aan die woord om ‘n mosaïek werksessie aan te bied. Lede ontvang elkeen ‘n houtbordjie as basis en kan self die spesifieke teëltjies en glasstukkies kies om mee te werk. Onder leiding van Beneke se instruksies voltooi elkeen ‘n pragtige stukkie mosaïekwerk om huis toe te neem. Beneke bederf die groep deur een van haar kunswerke te skenk as prys vir die trekking van ‘n lootjie en Jean Watermeyer is die gelukkige wenner!
Lategan deel ook inligting oor nuwe boekvrystellings wat lede uitdaag om te lees. Die dag word afgesluit met ‘n paar VLV sake en heerlike eetgoed, keurig voorgesit deur Heidi Lombard en Stephnie van Zyl.
Sirkel Middelland hou op 7 Maart 2018 konferensie in Jansenville en sewe van Aberdeen se lede is teenwoordig. Aberdeen Tak ontvang 4 bekers, nl 1ste prys vir lekkers (Carina Esterhuizen); 2de meeste nuwe lede; grootste % groei in ledetal en voorsitter met die meeste deursettingsvermoë (Lea van der Vyver). Kompetisie-inskrywings van die tak vaar ook goed met 2de prys vir gebak (Carina Esterhuizen) en 2de prys vir tekenkuns (Cornelia Cronjé). Verder was daar ook inskrywings vir digkuns (Annalie Lategan) en blommekuns (Adelle de Jager).
Vlnr Theresa van der Merwe, Estelle van Wyk, Adelle de Jager, Lize de Jager, Luise de Jager druk besig
Vlnr Jean Watermeyer ontvang ‘n kunswerk van Marguerite Beneke as geskenk
Die bekers wat Aberdeen Tak tydens Sirkel Middelland se Konferensie ontvang het
Eetgoed voorsien deur Heidi Lombard en Stephnie van Zyl
Leave A Comment