Sirkel: Namakwaland

Tak: Nieuwoudtville

Berriggewer: Erika Kotzé

Datum: 13 Maart 2018

 

Nieuwoudtville woon Konferensie in Vanrhynsdorp by

 

Dit was ‘n besondere eer en voorreg om die 81ste Sirkel Namakwaland konferensie te kon bywoon. Die reis, verblyf en konferensie-reëlings asook die registrasie-proses was sonder haakplekke.

 

Die konferensie het stiptelik begin met ‘n formele orde en ds Christoff Kock se boodskap het goed aangesluit by die tema; môre begin vandag.

 

Anso de Kock se klavier item het die gehoor in ‘n rustige, stil stemming gelaat.

 

Heidi van Niekerk se presidentsrede het daarop gefokus dat die VLV sigbaar moet wees in die gemeenskap. Die VLV is daar vir volwasse opvoeding, om te sosialiseer en te kommunikeer, die deel van kennis en vaardighede asook om te dien en daarom moet ons positief wees oor die VLV. Ons met mekaar inspireer en motiveer. Beplan en bemark die VLV deur nie-lede te nooi asook mans. Nooi sprekers, hou die vergaderings modern, wissel die lokaal af en sorg altyd vir ‘n verrassings-element. Wanneer het mens sukses bereik? Om te weet wat jou doel is. Te groei en jou volle potensiaal te bereik. Asook saad te saai tot ander se voordeel. Môre is vandag en God gee genade vir elke dag.

 

Lehana Nel, die spreker oor Leefstyl, met die onderwerp: “entrepreneurskap in en om die huis” het die gehoor verstom laat staan oor hoe talentvol sy is. ‘n Persoon op die platteland het waarde, moet leer uit hul foute en weer opstaan en terugploeg in die gemeenskap. Voorbeelde: boerbeskuit, bottelslaai, fetakaas van bokmelk, spoegdoeke vir babas, ‘n hondebed gemaak van ‘n ou trui, ‘n kussing van ou t-hemp; borduurwerk op linne, beskuitjie-fudge en ‘n oulike rok.

 

Lizelle Brand, die spreker van Kunste en Handvlyt, met die onderwerp: “Geskenk vir jou vriendin”, het ‘n demonstrasie gelewer met ‘n lasersny Cameo-masjien. Sy het pragtige items gemaak, onder andere; vlaggies, stensils, oorbelle, plakkers op ‘n koffie-beker, paashasies, aanstryk motiewe op ‘n vadoek en ander oulike hout-items wat sy ook op markte verkoop.

 

Dr. Rina Brink, die gasspreker van die dag, het oor die onderwerp: “Môre begin Vandag” gepraat.  Sy is ‘n opvoedkundige sielkundige en het die VLV se swartpot simbolies voorgestel waar die drie bene van die individu (lid), gesin (tak) en die gemeenskap (skool/kerk) in balans moet wees. Besef jou eie broosheid, luister opreg en huil en lag saam. Leer uit gister se foute en suksesse. Môre kan ons nie beheer nie maar kan slegs daarvoor beplan. Leef een dag op ‘n slag en dit is vandag. Hoe lyk die mensdom in 2018? Sy het die afkorting VIGS voorgestel as: mense is meer begaan met Voorkoms, Intellek, Geld en Status. Wat belangrik is vir die voortbestaan van die VLV, is om te besef wat belangrik is vir jong mense, dat die VLV tot voordeel moet wees vir die gemeenskap om hul te bemagtig. Daarom moet projekte volhoubaar en eerlik wees. Sosiale kapitaal is die fokus. Solank die lepel in die pappot staan is daar kos vir die mense.

 

Burre Burger is die Dankie persoon. Hy is gebore op 3 Januarie 1985 en sy droogte projek was op 6 Maart 2017 presies 1 jaar oud. Hy is ook bekroon as Vredendaller van die jaar. Hy het saam met sy ouers die konferensie bygewoon om sy toekenning te ontvang.

 

Burre Burger en Heidi van Niekerk

 

Susan Carstens was die Opvoeding en Kultuur spreker met die onderwerp: “Waarde-gedrewe Opvoeding… het Kultuur nog ‘n plek in skole”.  Sy het vertel van haar eie hemipleeg kind. En haar gedig wat handel oor haar kind, het eerste plek verower vir Huppelkind!  Sy is ‘n maatskaplike werkster. Daar is 6 pilare of waardes: betroubaarheid, respek, verantwoordelikheid, regverdigheid, omgee en ordelikheid. Hul help kinders met ‘n IK van onder 50 om met hul hande aan kuns deel te neem om sodoende hul selfvertroue te bou deur middel van visuele kuns asook danse. Moenie die Klawer Kunste waar 3000 kinders gaan deelneem gedurende 23-27 Julie misloop nie. Deelname is slegs R20 per inskrywing.

 

Christo Smit, die spreker van Openbare Sake, se onderwerp was “Versekering”. Hy het spesifiek gepraat oor huis-inhoud versekering by Santam. Dit was so fantasties om te hoor hoe hul mense gehelp het tydens die groot brand in Knysna. Hul het dadelik ‘n tydelike kantoor opgerig en mense gehelp met vervoer en verblyf.

 

Ina Wiese was die Gesondheid spreker met die onderwerp: “Lag jouself gesond”. Sy het ons laat skater en verbaas laat staan oor al die gesondheidsvoordele van lag!

 

Sanet Ras was die Landbou en Tuinbou spreker met die onderwerp: “Vetplante”. Sy het ‘n pragtige versameling vetplante saamgebring. Koop gerus en plant in jou tuin: woestynrosies, klipblom asook die Giant Blue Lady. Hierdie geestelike voorraad sal jou laat jubel in die Here.

 

Nieuwoudtville het die prys gewen vir die beste twee vergaderings vir Gesondheid en Openbare Sake.

 

Nieuwoudtville was die algehele kompetisie wenner!

 

Mandie Kotze hou Nieuwoudtville se eerste plek trofee trots vas

 

Terugvoering oor kompetisie inskrywings: beplan vroegtydig, maak jou artikel of item en rond dit af. Kyk na die notas in die groen en blou boeke asook hou die Februarie uitgawe van die Huis en Haard waar al die beperkinge en reëls verduidelik word. Daar gaan werkswinkels en sirkeldae gehou word om mekaar te help om meer inskrywings van beter gehalte in die toekoms te verseker.

 

Jy word uitgenooi na die Maart 2019 konferensie wat in Loeriesfontein gehou gaan word. Doen moeite om lede te roteer sodat elkeen ‘n beurt kry om bloot gestel te word aan die wonderlike sprekers.

 

Die VLVK projek vir hierdie jaar is; ruim op of deklotter. Verder word resepte benodig vir die VLV kookboek: toeka tot nou. Die VLV is volgende jaar 90 jaar oud. Stuur ‘n outydse en modern weergawe van dieselfde produk-resep aan Heidi.

 

Ons wil net vir die gasvroutakke, Vanrhynsdorp en Klawer bedank vir ‘n baie suksesvolle konferensie!

 

Leer uit gister. Hoop vir môre. Leef vir vandag.

“Who you are tomorrow begins with what you do today.”