Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Lina van den Berg

Datum: 7 Maart 2018

 

Sò word jy ‘n entrepreneur!

By die Maart vergadering van Murraysburg VLV, het die sameroeper van  Openbare Sake die klem op Entrepreneurskap laat val.  Drie plaaslike entrepreneurs het uit hul eie ervaring gepraat en waardevolle wenke gegee.

Maryn de Klerk, wat ‘n paar maande gelede haar geskenke/koffiewinkel se deure oopgemaak het,  het oor die finansiële aspekte gepraat.  Sy beklemtoon, onder andere,  dat die kostes  heelwaarskynlik vier keer meer gaan wees as waarvoor jy beplan het.  Sy noem ook die belangrikheid van nougesette finansiële- en voorraad-kontrole,  asook ‘n goeie verhouding met jou personeel. Met nugter denke en beplanning kan jy egter altyd so ‘n  geloofsprong waag!

Theresa Troskie, wat al vir baie jare ‘n suksesvolle juweliersbesigheid bedryf,  het vertel van die belangrikheid van marknavorsing om uiteindelik te besluit watter tipe bedryf  jy wil aandurf.  Een van die pluspunte van haar besigheid is dat sy nie nodig gehad het om ‘n perseel te huur nie. Jy moet natuurlik self glo in jou produk,  dit op ‘n etiese en professionele wyse bemark en verkoop,  én seker maak van klante–tevredenheid.   Vir kwaliteit produkte sal daar altyd ‘n mark wees.

In die jagbedryf  is dit uiters belangrik om mensekennis en geduld te hê indien jy ‘n sukses van hierdie kompeterende bedryf wil maak, is die mening van Adrie Conradie wat (saam met haar man) al vir 26 jaar in die bedryf is.  Sy glo in ‘n professionele aanslag, maar wel ook in ‘n vriendelike en gesellige atmosfeer.   Sodoende kom die meeste jagters jaar na jaar terug, laat doen ook die vleis-verwerking by hulle,  en word later byna soos familie!

Uit al drie hierdie bekwame vroue se wenke,  is een ding duidelik:   Sukses kan net volg wanneer jy bereid is om daardie ekstra myl te loop!

 

Murraysburg:  Sprekers by  Openbare Sake program:
Adrie Conradie, Theresa Troskie, Lina van den Berg (sameroeper) en Maryn de Klerk.