Sirkel: Middelland

Geleentheid: Konferensie

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 7 Maart 2018

 

 

Sirkel Middelland hou 84ste Konferensie

 

Op 7 Maart 2018 kom lede van al 14 Sirkel Middelland se Takke in Jansenville byeen vir hul 84ste Konferensie met die tema “Môre Begin Vandag”.  Jansenville haal uit in styl en ontvang al die gaste met gulhartige plattelandse gasvryheid!

 

Sirkelpresident Lynette Martin verklaar die konferensie behoorlik gekonstitueer, verwelkom almal en stel die eregaste voor.

 

Charmaine Smith van Jansenville open met gedagtes uit die Woord wat by die tema pas.  Dit wat ons vandag doen en dink bepaal hoe ons môre gaan leef.  Ons word deur swaarkry gelouter en gesuiwer om môre vreugde te ervaar.  God wil ons na ‘n Ewige môre laat uitsien.  Sy Gees in ons is dieselfde gister, vandag en môre.

 

Die Vriendskapskers word deur Joey Fourie, Sirkelsameroeper Openbare Sake, aangesteek as simbool dat VLV inskakel by plattelandse vroue regoor die wêreld om internasionale welwillendheid, begrip en vrede te bevorder.

 

Sirkelsekretaris Lea van der Vyver dra die groeteboodskappe van VLVK President en Argivaris asook verskeie Sirkelpresidente oor en lees ook die “in Memoriam” voor.

 

Na afhandeling van die openingsformaliteite is Sirkeltesourier Moniques Büchner aan die woord.  Sy verduidelik verskeie finansiële aspekte waaroor onduidelikheid is en gee ‘n oorsig oor die inkomste, uitgawes en beleggings van die Sirkel.

 

Sirkelbemarker Mariët van Niekerk vertel van Sirkel Middelland se “Facebook”-blad en vra lede om dit te “follow” en “share” en bydraes deur te stuur vir plasing.

 

Marika Taljaard, Sirkelsameroeper Ovoeding en Kultuur, vertel konferensiegangers meer oor generasiegapings en die eienskappe van elke generasie.

 

Marika Taljaard vertel oor generasiegapings

 

Sunette van Deventer, Sirkelsameroeper Landbou & Tuinbou, stel vir Beatie van Daalen aan die woord wat vertel van haar blommebesigheid, Bumblebee Flowers.  Sy kweek Lisianthus en meer onlangs ook Gypsophila.  Haar pragtige blomme is gebruik om die tafels in die konferensielokaal keurig te versier.

 

 

Keurige tafelversierings met Lisianthus & Gypsophila

 

Sirkelsameroeper Gesondheid, Marietjie van der Walt, vertel meer oor Listeriose en dat simptome baie soos die van breinvliesontsteking is.  ‘n Bloedtoets bepaal of ‘n persoon wel die siekte het.  ‘n Sterk immuunstelsel kan mens beskerm en dit is voordelig om gesond te eet.

 

Na tee is Dr Koos van der Merwe, hoofspreker van die dag, aan die woord.  Hy vertel van die sirkels waarin ons beweeg, dat ons elke dag voluit moet leef en dié na aan ons moet koester.  Ons moet nie in vrees leef nie – God sal sorg.  Sy vertelling boei en word vervleg met rympies, gedigte en liedjies uit sy eie pen.

 

Dr Koos van der Merwe, hoofspreker

 

 

Openbare Sake Sirkelsameroeper, Joey Fourie, stel vir Quinette Goosen van die Mula-herwinningswinkel in Uitenhage aan die woord.  Die fokus is op klein kinders wat plastiek en karton inbring.  Volgens die gewig kry hulle punte (“mula”) wat geruil word vir kos en ander ware by die winkel.  Die kinders word met waardigheid hanteer en geleer, terwyl die omgewing opgeruim en armoede verlig word.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Na middagete lewer Lynette Martin haar Presidentsrede en daag almal uit om nie ‘n middelmatige bestaan te voer nie – begin vandag, nie môre nie.  Sy deel ook die Sirkel se jaarverslag en statistieke.  Martin sluit af deur Takke te vra om innoverend te wees, te vernuwe en aan te pas – VLV benodig entoesiastiese lede wat ook nuwe lede kan werf om die organisasie se groei in die toekoms te verseker.

 

 

 

Lynette Martin, Sirkelpresident Sirkel Middelland

 

 

Hannelie Louw, Sirkelsameroeper Kunste en Handvlyt, se aanbieding behels ‘n demonstrasie waarin elkeen die geleentheid kry om saam ‘n interessante groetekaartjie te vou en plak.

 

Leefstyl Sirkelsameroeper Jackie Barnard gee idees oor hoe om jouself te motiveer en op te kikker.  Doen iets nuuts en gebruik jou kreatiwiteit.

 

Natania Schmidt vertel meer oor Acqua Tak se “Kuns as ‘n Guns” projek om geld vir CANSA in te samel.

 

Die prysuitdeling is ‘n hoogtepunt en 30 trofees word oorhandig.

 

          

Kompetisie-items

 

Jansenville Takvoorsitter, Sanmarie Vermaak, en haar lede word bedank vir ‘n suksesvolle konferensie.  Die borge van die dag word ook bedank, naamlik Cape Mohair, Hinterveld, Samil, BKB, Rene Oelofse, Beatie v Daalen en Angora Mountain Bike Classic.  Jay Oelofse van Kokkedoor-faam was in beheer van die etes en verversings en plaaslike produkte is met internasionale swier voorgesit.

 

                 

Geurige kos met plaaslike produkte swierig voorgesit

 

Tydens konferensie word ‘n bedrag van R5 305 ingesamel vir Droogtehulp wat aan Agri-Ooskaap oorbetaal sal word.

 

Konferensie verdaag en almal sien uit na die aand se heerlike kuier met gaskunstenaar Koos van der Merwe om die geleentheid af te sluit.