Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Operbare Sake

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 24 Januarie 2018

 

Einde Januarie 2018 word die eerste VLV vergadering vir die jaar by die Aberdeen Klub aangebied.

 

Vir die opening vra Lea van der Vyver lede af of hulle die nuwe jaar met vrees of met geloof binnegaan.  Die Bybel leer ons dat ons op God se beloftes kan vertrou, al lyk die realiteite donker.  In Matteus leer ons dat bekommernis ons nêrens bring nie; soos God vir die voëls sorg, sorg Hy vir ons.  Ons moet dus net ons geloof versterk en dit word gedoen deur gereeld die Bybel te lees om God en Sy beloftes beter te leer ken.  Dan kan ons God se vrede wat alle begrip oortref ervaar, soos in Filipense geskryf staan.

 

Die fokus van die vergadering is op Openbare Sake en Sameroeper Suzanne Lategan reël twee sprekers om inligting te deel.

 

Jannie Schoeman, Verhoudingsbestuurder, Besigheidsbank van ABSA op Graaff-Reinet vertel meer oor die diens wat die bank aan boere verleen.  Hy word vergesel deur se assistant Jer Nortjé.  Schoeman verduidelik dat die bank ‘n vennoot in die boer se besigheid wil wees.  Hulle besoek boere en bespreek breedvoerig persoonlike en die besigheid se finansiële sake en behoeftes sodat beplanning gesamentlik kan plaasvind.  Die grootste probleem wat ondervind word, is dat mense nie deeglike opvolg- en boedelbeplanning het nie.  Dit veroorsaak krisisse wat vermy kon word.  Schoeman beklemtoon verder die belangrike rol van die vrou en dat sy veral gedurende droogtetye haar man moet ondersteun en moet besef hoe moeilik dit vir hom is.  Dit is dan ook van belang dat beide die man en vrou op hoogte moet wees van wat in die besigheid aangaan en wat die finansiële situasie is om dit effektief te bestuur.

 

Vlnr     Jannie Schoeman (ABSA), Suzanne Lategan (Sameroeper Openbare Sake) en Jer Nortjé (ABSA)

 

Morné Nel van Aberdeen Brandweer gee lede ‘n deeglike oorsig oor die moets en moenies van brande in die huis en op die plaas.  Die passie vir sy werk is duidelik en maak ‘n indruk op almal.  Hy beklemtoon die belangrikheid om so gou moontlik uit die gebou te kom wat brand – kruip op hande en voete, want daar is meer suurstof naby die vloer.  Moenie eers dinge gryp nie en moet nooit teruggaan om iets te gaan haal nie.  Wanneer klere brand is dit belangrik om neer te val en te rol.  Op plase moet brandstof en olie reg geberg word en veevoer en lusern moet reg gestoor word.  Moenie sigaretstompies net neergooi nie – dit moet in die sand gedruk word.  Brandpaaie op plase is belangrik en moet om elke kamp wees om brandverspreiding te beheer.  Nel beklemtoon die belangrikheid om kalm te bly en reg op te tree in geval van enige brand.  Dit is belangrik dat die brandweer so gou moontlik ontbied word.

 

Vlnr     Suzanne Lategan, Elna van Niekerk, Anchen van Schalkwyk met verjaarsdagmeisie Anke (1), Brandweerman Morné Nel, Lea van der Vyver, Jean Watermeyer, Karen van Rensburg, Annalie Lategan, Carina Esterhuizen, Elise Steynberg en Cornelia Cronjé

 

 

 

 

Tydens die vergadering word Cornelia Cronje as nuwe lid verwelkom.  Haar kunstige studentedogter, Anje Cronje, wys aan lede haar pragtige potloodsketse wat sy tans vir ‘n uitstalling in Johannesburg maak.

 

 

 

 

 

Anje Cronjé wys een van haar kunstige potloodsketse

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Nog van Anje Cronjé se potloodsketse

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Alhoewel geen lid in Januarie verjaar nie, was dit die eerste verjaarsdag van baba Anke van Schalkwyk, dogterjie van Anchen van Schalkwyk wat die vergadering saam bygewoon het!

Anje Cronje wen die gelukkige trekking van die dag.

 

Die vergadering word afgesluit met heerlike wafels en vrugte wat Elna van Niekerk en Elise Steyberg voorsien.

 

Vlnr     Elise Steynberg en Elna van Niekerk sit heerlike wafels met vars vrugte voor