Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeuljes: Gesondheid En Leefstyl

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 31 Oktober 2017

 

 

“WIE ORE HET, LAAT HOM HOOR………………………..”

 

 

 

 

Alice van Rooyen het die maandvergadering van VLV-Kleinmond geopen en die lede en gaste vir ‘n paar minute laat stilstaan by die betekenis van die presiese herdenking van Martin Luther se inlui van die Hervorming 500 jaar gelede. “Die Bybel is vir die gewone mens oopgemaak en dis hoekom ons vandag die wonderlike stories van Bybelvroue soos Esther kan lees en uit hulle lewens kan besef hoe belangrik ag God die vrou” het Van Rooyen gesê. Dis bevestig deur die roerende lofdans uitgevoer deur Ananda Krige.

 

 

Alice van Rooyen open die vergadering

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

                         

Ananda Krige se treffende lofdans.

 

Oktober, Borskankermaand, is afgesluit by die VLV-maandvergadering met die aansteek van pienk strikkies vir elke lid en gas. Die gasspreker van die middag was Liesel van der Merwe, oudioloog van die Paarl, wat die probleem van toenemende gehoorverlies by veral bejaardes aangespreek het.

 

Dit is voorafgegaan deur ‘n humoristiese tweespraak tussen die dowe Bartel en sy vrou wat uitgewys het hoe ontstaan misverstande a.g.v. iets wat nie reg gehoor word nie en dus nie reg verstaan word nie. Dit het heel gepas plaasgevind op die verhoog wat soos ‘n sitkamer verander is met lede van die Leefstylportefeulje se kwiltwerk en ander dekorartikels.

 

Lizette van Jaarsveld en Anne Meershoek as Elsie en Bartel besig met hulle tweespraak.

 

Gasspreker Liesel van der Merwe.

 

Liesel van der Merwe het aan die hand van pamflette wat uitgedeel is, verduidelik hoe werk ‘n mens se gehoor en wat die impak op jou sosiale lewe kan wees as dit verswak. Sy het navorsing aangehaal wat uitwys watter verband daar is tussen gehoorverlies en demensie en uiteindelik Alzheimers indien dit nie betyds na gekyk word nie. Gehoorverlies bring afsondering wat manifesteer in depressie, angs, moegheid, geïrriteerdheid, knorrigheid en geheueverlies. Simptome om na op te let is dat die mense om jou skynbaar onduidelik praat of mompel, die TV/radio harder gedraai moet word, jy nie die telefoon of deurklokkie hoor nie en wanneer jy nie ‘n  gesprek in ‘n groep of openbare ruimte kan volg nie a.g.v. verwarrende agtergrondgeluide. Gaan na Liesel se webwerf www.paarlhearing.co.za vir meer besonderhede.

 

Bykomend het Rudolph Thomas, ‘n plaaslike bemarker van aanvullings, gewys op die noodsaaklikheid daarvan dat die moderne mens dit by sy dieët insluit omdat hy dit nie meer normaalweg inkry met sy daaglikse voedselinname nie.

 

 

 

 

 

 

Die taklede het ook kans gekry om lootjies uit te neem vir ‘n geskenkpak wat deur die lede van Landbou&Tuinbou opgemaak is en waarmee hulle in die gemeenskap fondse insamel vir droogtehulp. Die geld sal saam met die bedrae wat elders in die Overberg ingesamel word, oorbetaal word aan Agri-WesKaap vir administrasie.

 

 

 

Hermien van Zyl, saamroeper Landbou&Tuinbou by die uitlootpak vir droogtehulp.

 

 

 

 

 

 

‘n Bedompigwarm middag is afgesluit met heerlike vars vrugteslaai voorgesit deur die dames van Gesondheid en Leefstyl.

 

 

VLV is ‘n familiesaak! V.l.n.r. Rudolph Thomas en sy ma Marie saam met Marlene Bouwer en haar skoondogter Liesel van der Merwe.

 

Van die gasvroue van die middag saam met die sprekers Liesel van der Merwe, heel links en Rudolph Thomas regs agter langs sy ma Marie Thomas. Voor v.l.n.r Malinda Hugo, Daphnè Loots, Cecile Jonkheid(takvoorsitter), Alice van Rooyen en Ruanda de Clerq(Taksekretaresse). Middel v.l.n.r. Spreker Liesel van der Merwe, Myra Barnard, Lynette Loubser, Charmaine Pretorius, Lizette van Jaarsveldt, Dona Brand, Nancy du Plessis, Carlotta Kiesling en Lisbè Badenhorst (saamroeper Gesondheid). Agter staan Anne Meershoek(heel links) en Johanna Groenewald(saamroeper Leefstyl) by Marie Thomas en Rudolph Thomas.

 

Johanna Groenewald (saamroeper Leefstyl) en Lisbè Badenhorst (saamroeper Gesondheid) hier saam met die spreker Liesel van der Merwe en Cecile Jonkheid, Kleinmond Tak se voorsitter.