Sirkel: Overberg

Tak: Hermanus

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Diana Lambrechts

Datum: 11 Oktober 2017

 

Hermanus het ‘n bedrywige Oktober maandvergadering beleef. Dit was Muntlegging vir W.B.P.V, die viering van die tak se oudste, steeds aktiewe lid se 90 ste verjaardag, en dan nog ‘n goeie spreker.

 

 

 

Die spreker was Anthony Hall die eienaar van Rael, ‘n rehabilitasie sentrum vir verslaafdes. Die sentrum is geleë op ‘n kleinhoewe buite Worcester en hulle spits hulle toe op die bewusmaking van verslawing, die erkenning, dan die opvoeding en die verwerking van die stigma.

 

Anthony was self ‘n alkoholis en het ‘n moeilike pad gestap. Hy vertel van sy wedervaringe op straat en selfs in die gevangenis. Sy moeder het hy talle kere teleurgestel en sy moes soms moeilike besluite neem, soos byvoorbeeld om hom in die tronk te laat sit maar sy het bly glo en bid.

 

 

Hy glo dis sy ma se gebede en God se liefde en genade wat hom weer sy lewe teruggegee het.   Hy gebruik nou sy lewe om ander wat dieselfde pad stap te help. Hy leef “Walk the Christian walk” en is nooit skaam om ‘n kind van die Here te wees nie.

 

Dwelms kom in die hele gemeenskap voor van onder die armstes tot onder die rykstes en mees gesiene mense.  Hy besoek skole landwyd en is van mening dat daar nie ‘n skool is wat nie ‘n dwelmhandelaar het nie.

 

Ouers word gewaarsku om veral bedag te wees op gedragsveranderinge by kinders. Gesels met hulle en moenie alles wat verkeerd is afwater en onder die mat invee nie.

 

Hy verkondig openlikheid, kommunikasie, baie lag en liefde teenoor mekaar en respek vir ander en vir jouself.

 

Anthony is van mening ons land is besig om te verkrummel. Boere word vermoor, diefstal kom oral voor en twaalfjarige kinders verkoop hul lywe, alles vir geld. Dwelms laat beland gesiene mense op straat.

 

Sy raad aan ons is meer liefde teenoor mekaar, loop die ekstra myl vir jou medemens, bid voortdurend en moet nooit twyfel in God se genade nie.

 

 

 

 

 

 

Muntlegging uitstalling

 

 

 

 

Peggy van Druten en Joan van Deventer neem die muntlegging waar.

 

 

 

 

 

Peggy van Druten ontvang ruiker by voorsitter Magda Marais