Sirkel : Overberg

Tak: Hermanus

Portefeulje : Gesondheid

Beriggewer : Diana Lambrechts

Datum :  12 Julie 2017

 

Mediclinic Hermanus se bestuurder, Anna-Marie Nortje, het van die VLV-dames op ‘n begeleide toer deur die hospitaal geneem. Die sale met pasiënte, wat aan almal bekend is, het ons vermy maar verder is daar oral ingeloer van die ICU en teater tot die washuis.

 

By die washuis leer ons dat teaterlinne nooit gestryk mag word nie. Hierdie spesiale wyd geweefde linne moet te alle tye droog bly en word op spesiale rakke verpak. Die instrumente word voor operasies in die linne verpak en dan gesteriliseer, die linne laat die stoom deur en met die hitte trek die linneweefsel weer toe en sorg sodoende dat alle  bakterieë  uitgehou word.

 

Washuis besig met die bekende teaterlinne

 

Die ongevalle eenheid word sedert Februarie 2017 vir 24 uur per dag beman deur spesiale dokters, wat nou ook die trauma-gevalle kan hanteer.

 

Uit die 52 Mediclinic hospitale is daar slegs drie wat nog hulle eie kombuise doen en Hermanus is een van die drie. Die kafeteria kan ongeveer twintig mense sit vir etes en is baie gewild onder personeel en die publiek. Aansit- sowel as wegneemetes teen R35 per bord is baie bekostigbaar. Spyskaarte word uitgedeel en daar sal beslis van hierdie opsie gebruik gemaak word.

 

Heerlike verversings word in die raadsaal bedien en daar hoor ons meer oor die administrasie van die hospitaal.

 

Mev Anna-Marie Nortje verduidelik die Mediese Fondse

 

Mevrou Nortje sê die hospitaal is ook net ‘n besigheid wat homself moet finansier.Dit is egter nie ‘n lekker, aangename besigheid nie en niemand wil graag hospitaal toe gaan nie. Daar is geen aankope wat jy huistoe neem nie, daarom streef hulle daarna dat jy darem ‘n aangename ervaring kan onthou. Hulle leuse is “Pasiënt eerste by Mediclinic”. Sy rig ‘n uitnodiging dat enigeen kan kom kla oor die diens, haar deur staan oop en sy glo klagtes hou jou te alle tye op jou tone.

 

Inligting rondom die mediese fondse word aangespreek. Dit is uiters belangrik dat jy altyd ingelig is rondom die voordele van jou fonds. Lees die jaarlikse hersienings kontrak met aandag en indien iets onduidelik is gaan vra by die hospitaal. Dit is ook belangrik om seker te maak wat die fonds gaan betaal voor enige prosedure.

 

Die vraag hoekom is hospitale so duur kom heel dikwels voor en sy gee ’n verduideliking van die berekenings. Die hele berekening word op 24 uur beddae gedoen en dit is nogal kommerwekkend wat ‘n gewone item soos ‘n bedpan se kostes beloop. Ons kyk nou met ander oë na al die verrigtinge rondom die bed.

 

‘n Besoek aan ‘n pasiënt bly steeds aangenamer as om self die pasiënt te wees.

 

 

Berta Koekemoer, Onder-Voorsitter, bedank en oorhandig ‘n ruiker.