Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Kuns & Handvlyt

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 14 Junie 2017

 

Om kuns te pleeg is nie iets wat almal van ons ewe gemaklik mee is nie. Of bekend mee is nie. Om een of twee maal ‘n jaar by ‘n Kunstefees uit te hang beteken nie dat jy kuns pleeg of jou kunsraamwerk verbreed nie. Net so min beteken die Mnr. Prys-afdrukke – hoe mooi of kleurvol, ook al – wat teen jou huis se mure pryk, dat jy ingelig en opgevoed  is oor kuns nie.

 

Acqua-lede erken ruiterlik dat werklike kunskennis nie in algar se verwysingsraamwerk is nie. Gelukkig maak die VLV korte mette van onkunde. Die gasspreker by Acqua se Kuns & Handvlyt-vergadering, ‘n opgeleide,  bekroonde en wel bekende kunstenaar, Bretten-Anne Moolman, het lede se kunskennis uitgebrei. www.bamoolman.co.za

 

  

Bretten-Anne Moolman saam met Kwakkie, spesiaal in haar “verf”pakkie getooi vir die geleentheid.

 

Oorspronklike kuns is ‘n uitstekende manier om iets uniek tot jou huis en dekor te voeg. Dit gee karakter aan die vertrek, maar kan natuurlik baie duur wees. Veral as dit ‘n bekende kunstenaar of ‘n werklik unieke en rare kunsstuk is. Dis nie almal wat bykans R17 500 000 kan uithaal vir ‘n Irma Stern nie. Haar Arab in Black was as kennisgewingbord gebruik in die kombuis van ‘n Londense woonstel voor dit ontdek en verkoop is vir ‘n rekordbedrag.

 

Baie mense het al die fout gemaak om kuns te koop as ‘n belegging of bloot net omdat dit oorspronklik is en hulle gedink het dat dit groot waarde het. Dit kan ‘n groot en baie duur fout wees om iets te koop waarvan jy nie werklik baie hou nie. Die kunsstuk moet jou laat glimlag. Elke keer wat jy daarna kyk.

 

Jou begroting is van kardinale belang. Of jy nou by ‘n gallery of direk van die kunstenaar koop. Bespreek jou begroting met die galleryeienaar of kunstenaar en laat hulle jou help om ‘n kunsstuk aan te skaf wat tot jou hart én jou sak spreek. Modegiere moet altyd die knie buig voor persoonlike voorkeur en kritiese intelligensie as dit kom by wat die beste kopie vir jou is. Die raad van tydskrifte en koerante kan ook maar met ‘n knippie sout geneem word. Begin met ‘n klein werk en koop stelselmatig groter en duurder werke.

 

As jy van kuns hou is besoeke aan gallerye en ontmoetings en geselsies met interessante kunstenaars en kunskenners pure plesier. Dit kan ook ‘n baie bevredigende avontuur wees. Die byvoordeel is dat sulke voetwerk jou net beter ingelig en meer van ‘n diskriminerende koper maak.

 

Kuns is ‘n belangrike deel van jou huis en dit gee vir huisbewoners die geleentheid op ontvlugting sonder om die huis te verlaat.

 

Acqua-lede sal voortaan met nuwe oë na kuns kyk.