Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 14 Junie 2017

 

Tydens die Junie 2017 vergadering van die Aberdeen VLV is Opvoeding die fokus en word behoeftes onder die gemeenskap se jeug bespreek.  Louise de Jager (Sameroeper Opvoeding en Kultuur) reël twee sprekers vir die dag.  Estelle van Wyk word as nuwe lid verwelkom.

 

Lea van der Vyver open deur te lees uit Spreuke 31 wat vertel van ‘n vrou se belangrike en kosbare rol in haar huis, maar ook in die gemeenskap.  Baie van die probleme met die jeug in ons samelewing is juis omdat vroue nie die rol vervul nie.

 

Die eerste spreker is Neil Pienaar, ‘n wiskunde onderwyser van Camdebo Laerskool in Aberdeen.  Hy vertel meer van die uitdagings van onderwys in Suid-Afrika en dit wat hy elke dag beleef.  Benewens die probleme in onderwys is daar ook sosio-ekonomiese probleme soos dwelms, fetale-alkoholsindroom en tienerswangerskappe.  Pienaar bespreek ook moontlike oplossings vir Suid-Afrika, bv dat daar genoeg bekwame onderwysers aangestel word en dat daar ook fokus en opleiding vir ambagte en hande-arbeid sal wees.

 

Pienaar gee ‘n oorsig oor die Camdebo skool en vertel van die goeie dissipline en uitstekende bestuurspan onder leiding van die skoolhoof, Pieter Syfers.  Daar is wel uitdagings met die groot klasse en leerders wat wissel van begaafd tot remediërend wat in een klas sit.  Daar is ‘n voedingskema wat leerders van ‘n gekookte maaltyd voorsien – vir baie die enigste kos wat hulle kry.  Pienaar is passievol om leerders wat die vermoë het om onderwys te studeer reeds in die laerskool te identifiseer en dan by te staan om die regte hoërskoolopleiding te kry sodat hulle vir beurse kan aansoek doen.  Hy het ook met ‘n tuinmaakprojek begin waar die skool verfraai word en die leerders ook help.  Hy vertel hoe VLV betrokke kan raak by die skool.

 

Na ‘n gesellige teetyd met sop en quiche is dit die spreekbeurt van Leonie Bedaar van die Bambino Sopkombuis op Aberdeen.  Die sopkombuis is einde 2016 begin deur Bedaar en haar vriendin Jane Saayman, om die onversorgde honger kindertjies in hulle gemeenskap, Lotusville, te help.  Hulle het registreer by Maatskaplike Ontwikkeling en gee tans uit hulle eie sakke kos aan 40-50 kinders.  Op die stadium is daar een ete per week, maar hulle wil graag 3 etes per week verskaf en dan ook die kinders op ‘n Saterdag besig hou en twee maaltye gee.  VLV lede het kosskenkings saamgebring na die vergadering en dit aan Bedaar oorhandig.  Lede sal op ‘n deurlopende basis kos, vleisbene en selfs kinderklere op die dorp afgee as skenking om te help.

 

Die vergadering sluit af met die bespreking van ‘n paar VLV sake.  Elna van Niekerk wen die gelukkige trekking van die dag.

 

Agter vlnr : Carina Esterhuizen, Heidi Lombard, Louise de Jager (Sameroeper Opvoeding en Kultuur), Neil Pienaar (spreker), Lize de Jager, Elise Steynberg, Annalie Lategan

Voor vlnr: Stephnie van Zyl, Elna van Niekerk, Leonie Bedaar (spreker), Lea van der Vyver