Sirkel: NOK

Tak: Jamestown

Studierigtings: Kunste & Handvlyt + Opvoeding en Kultuur + Leefstyl + Landbou

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 7 Junie  2017

 

Philna & Mariana van Pletzen was gasvroue, asook verantwoordelik vir die dag se program, met Italië as tema. Alle eetgoed (tee en middagete) was Italiaans, en Philna se skoondogter, Samantha, het vertel van haar toer na Italië ‘n paar jaar gelede. Sy het ook verskeie albums, foto’s, kaarte en artikels vertoon.

 

Samantha het o.a. vertel dat die Italianers min uitheemse kosse eet – meestal Italiaanse kos. ‘n Mens moet ook staan-staan (baie sterk!) koffie drink, want jy betaal ekstra vir ‘n sitplek in ‘n koffiekroeg!

 

Samantha van Pletzen vertel van Italië

 

In die dae van die Gladiators in Rome kon die vroue ook nie sit nie – die rykes het die voorste sitplekke gekry en die armes moes hoog agter sit. Selfs deesdae staan mans nie terug vir ‘n vrou by ‘n deur, op ‘n bus, ens. nie. Geen vroue met langbroeke word in kerke toegelaat nie, en almal moet hooftooisels dra. In Italië is drinkwater duurder as wyn – dus drink almal enige tyd van die dag wyn!

 

Die Italianers eet baie deeg en geen eiers nie – soms wel kwartel-eiers. Min vleis ook. Pasta is alles tuisgemaak en Sjokolade is nie baie soet nie.  Geen skoolsport word beoefen nie. Venesië is op stelte gebou wat besig is om te disintegreer, en die water waarop die gondolas vaar, ruik baie sleg. Handvaardighede soos glasblasery, word oorgedra van pa na seun.

 

Meeste mense is arm; as jy ‘n motor het, is jy ryk. Daar is meestal net 1 kind per gesin, en huise word gehuur, omdat aankope nie bekostig kan word nie. Boerdery is hoofsaaklik bestaansboere wat ‘n bietjie van alles kweek om self te eet en te verkoop. Florence (Firenze) is die plek waar parfuums aangekoop kan word. Hier word ook ‘n blou sjampanje met ‘n vreemde smaak  vervaardig.

 

 Herinneringe aan Italië, asook heerlike Tiramisu-tert!

 

Op die Borano-eiland is elke huis ‘n ander kleur, wat baie kleurvol vertoon. Toilette is almal bidets, en bewaring van ou geboue is vir die Italianers baie belangrik. Winkels maak toe vir siesta vanaf 14h00 -5h00, wat maak dat dit ‘n rustige volk is wat nie aangejaag word nie. Die beste tyd om Italië te besoek, is Junie/Julie wanneer die klimaat baie gematig is.

 

Mariana het foto’s gewys van materiaal-borsspelde en pakkies materiaal uitgedeel waarmee elkeen by die huis ‘n borsspeld moet gaan maak en na die volgende vergadering moet saambring. Sy het pastaresepte uitgedeel, asook 3 gelukkige trekkings van verskeie pastas gedoen. Elkeen het ook ‘n appelkoosboompie ontvang om te gaan plant.

 

Philna het pakke plankies uitgedeel, waarmee lede houers (bv. fotoraam, vir potplant, op ongebleikte linne geplak, ens) moet gaan maak. Dit moet eers vernis en geverf word voordat dit aanmekaar gesit word. Daarna het Philna gedemonstreer hoe om geskenkhouers uit ou melkkartonne te maak, wat met geskenkpapier oorgetrek en met knope, lint, ens. versier word. Elke lid het geleentheid gekry om haar eie te voltooi.

 

 Philna van Pletzen demonstreer die herwinning van ‘n melkkarton, terwyl Mariana van Pletzen toekyk.

 

Die eindprodukte van die herwinningsprojek!