Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Theresa Troskie

Datum: 24 Mei 2017

 

Adri Kruger bespreek die aktuele en bekroonde boek Boundaries deur Dr. Henry Cloud & Dr. John Townsend.

Duidelike grense is noodsaaklik vir ‘n gesonde, gebalanseerde leefstyl.

 

Christene het begin glo dat dit verkeerd is om soms nee te sê vir dìt wat die wêreld van ons eis.  Ons fokus is so gemik daarop om liefdevol, behulpsaam en vrygewig te wees, dat ons ons eie grense en beperkinge uit die oog verloor.  Jyself is in beheer van jou grense wat geskuif kan word en waar jy kan in- en uitlaat wat jy wil.  Het jy jouself al betrap dat jy wonder:

  • Kan ek grense stel en steeds ’n liefdevolle mens wees?
  • Hoe antwoord ek iemand wat my tyd, liefde, energie of geld wil hê?
  • Hoekom voel ek skuldig as ek dit oorweeg om grense te stel?

 

In hierdie bekroonde boek gee drs Henry Cloud en John Townsend Bybelsgabaseerde antwoorde op hierdie en ander moeilike vrae.  Hulle wys jou hoe om gesonde grense te stel vir jou ouers, lewensmaats, kinders, vriende, kollegas en selfs vir jouself.

 

Grense is persoonlike eiendomslyne wat definieer wie jy is, wie jy nié is nie en dit beïnvloed alle fasette van jou lewe:

  • Fisiese grense help ons vasstel wie aan ons mag raak en onder watter omstandighede;
  • Geestelike grense gee aan ons die vryheid om ons eie gedagtes en oortuigings te hê;
  • Emosionele grense help ons om ons eie emosies te hanteer en om onsself los te maak van die nadelige, manipulerende emosies van ander;
  • Geestelike grense help ons om God se wil van ons eie te skei en gee ons nuwe eerbied vir ons Skepper.

 

Renée Swanepoel (voorsitter), Adri Kruger (aanbieder “Boundaries”), Lina van den Berg (aanbieder 100 jaar van georganiseerde landbou in Murraysburg) en Hannelize van Heerden (sameroeper:  Opvoeding en Kultuur)

 

Daar is ook teruggekyk na die beginjare van Georganiseerde Landbou in Murraysburg  vanaf 100 jaar gelede.  Die Laer Sneeuberg Landbouvereniging is op 10 Maart 1917 gestig  en was die eerste landbouvereniging in Murraysburg.  Die ledegeld was ‘n hele  7 sjielings en 6 pennies per jaar!   Enkele interessanthede uit notules word met die vergadering gedeel deur Lina van den Berg.

 

1)  1917 tot 1919:   Een van die grootste probleme van boere was  om hul produkte te vervoer en te bemark.  Aangesien daar nog geen jakkalsproef heinings was nie, was die jakkalsplaag baie erg. Daar was natuurlik ook nog geen telefoonverbindings nie.   Om hul eie vaardighede te verbeter, is debatte oor verskeie onderwerpe, gereeld by vergaderings gehou.  Vergaderings is ook dikwels op Saterdae gehou.   Selfs een keer op Saterdag, 24 Desember! Veesiektes, veral brandsiek, was ‘n groot risiko.  “Arensoda” word as ’n nuwe effektiewe dip genoem. Daar was ook in hierdie tyd versoeke om beperkings op die jag van kleinwild soos ribbokke, springbokke en duikers te plaas.  Dit word as die eerste poging tot natuurbewaring gesien.  Belastings was ook baie keer op die sakelys, maar soos vandag, was vertoë selde suksesvol!

 

2)  1920 tot 1927:  Daar was gereeld klagtes oor die munisipaliteit wat disfunksioneel en ontoeganklik was, asook klagtes oor die Unie regering wat geld op “sinnelose projekte”  vermors het!   Die groot aantal belastings wat gehef is, was ook ‘n bron van irritasie.  Bv. Inkomstebelasting, wegbelasting, eiendomsbelasting, wielbelasting, hondebelasting, hoofbelasting, ens. Daar is suksesvol onderhandel vir ‘n spoorlyn oor Murraysburg.  ’n Padmotordiens na Murraysburg is wel later ingestel.

 

3)  1930 tot 1939:   Die erge droogte en wêreldwye depressie  van die dertigerjare het veroorsaak dat produkte byna niks werd was nie.  Turksvye was ook ‘n groot plaag en planne is selfs beraam om “petrol” daarvan te maak. Swak paaie was deurlopend ’n probleem.  Mnr. JJ van den Berg het op ’n dag die padmaker agter in sy motor gelaai en vinnig oor die slegte dwarswalle gery – blykbaar het die padmaker toe beter verstaan!

 

4)  1940 en later:   ‘n Plan word met die dassieplaag gemaak deur dassievelle na die Leerinstituut op Grahamstad te stuur vir die maak van karosse.   Tydens die Tweede Wêreldoorlog was daar ‘n beperking per motoreienaar op die aankoop van brandstof en buitebande.   Veldbrande in die bergdele was altyd ‘n groot uitdaging —  met geen tweerigting radio’s of selfone vir kommunikasie soos vandag nie!

 

Samevattend:    Ons voorgeslagte het  baie soortgelyke probleme as ons vandag gehad.  Hulle moes egter met baie minder hulpbronne, baie vermag.  Die noukeurige hou en bewaring van notules,  is iets waarop ons beslis kan voortbou.