Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: A Beelders

Datum: 18 Mei 2017

 

VLV Vroue leer van kompos en tuinbemesting

 

Gert Engelbrecht, VinPro wingerdboukundige vir die Olifantsrivierstreek, het by ‘n VLV vergadering op Vredendal aan die dames die maak en gebruik van kompos vir hul tuine verduidelik. Bemesting soos kunsmis en kraalmis bevat die nodige stikstof, fosfate, kalium ensovoorts om deur mikro organismes in die grond vrygestel te word en deur die plante opgeneem  te word. Ander hulpmiddels soos Gips en Kalk word gebruik om die hoë natrium inhoud uit brakgrond te loog en om verdigting teen te werk.

 

Gert Engelbrecht en Annerita Kearney.

 

Alles kos natuurlik geld. Die toediening van oormaat stikstof kan moontlik die koolstofinhoud van die grond, wat reeds laag is, verder verlaag. Daar moet eintlik gepoog word om die koolstofinhoud van die grond op te bou. Dit is ‘n tydsame proses maar nie onmoontlik nie. ‘n Natuurlike en baie beskikbare bron van bemesting met die nodige voedingstowwe, organiese materiaal en mikro organismes om die grond produktief te maak, is byderhand en verniet in die vorm van kompos, gemaak van ons tuin- en huisafval.

 

Daarvoor benodig jy ‘n hout krat of enige ander tipe gepaste houer so gemaak om lug deur te laat. Dit word dan opgevul, soos dit beskikbaar raak, met tuin en huisafval in die verhouding van driekwart “bruin materiaal” en ‘n kwart “groen materiaal”. Bruin materiaal is alle afvalblare of ander afval materiaal van die tuin. Selfs papier, kartonne en hout saagsels sal werk.

 

Groen afval is onder andere vrugte en groente reste, behalwe uie en sitrusskille wat glo die kompostering kan vertraag. Selfs die inhoud van gebruikte koffie en teesakkies word gesien as “groen materiaal”. Geen vleisprodukte word gebruik nie. Pasop ook vir tuinmateriaal wat met insek/swam- of onkruiddoder behandel is aangesien dit ook die proses kan vertraag.

 

Die bruin en groen afval word in afwisselende lae in die houtkis gepak en gereeld natgemaak. Dit moet ook gereeld met ‘n tuinvurk omgewerk word, elke dag as moontlik, selfs met langer tussenposes, maar gereeld. Wanneer dit goed opgebreek en gekomposteer het, is dit gereed om gebruik te word en kan dit tot tuingrond aangevul word.